Middelland Skitter in Karoo met Denim en Diamante!

 

Middelland Skitter in Karoo met Denim en Diamante!

Posted by VLV in News, SIRKEL NUUS 05 Mar 2020

 

Sirkel: Middelland

Sirkelkonferensie

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum:  4 Maart 2020

 

Sirkel Middelland se 86ste konferensie vind op 4 Maart 2020 op Willowmore plaas.  Die tema vir die dag is “Denim en Diamante”, in pas met Sirkel Middelland se strewe om VLV te verjong en moderniseer om sodoende ook jonger vroue te trek.  Willowmore Tak ontvang gaste met gulhartige plattelandse gasvryheid in die plaaslike Skousaal en selfs die snikhete Karoohitte kan nie die sprankel van die dag keer nie.

 

Na die verwelkoming open Anneke Lötter met die gelykenis van die saaier – ons moet versigtig wees wat ons in ons lewens toelaat.  Negatiewe emosie en mense veroorsaak dat ons nie kan vrug dra nie.  Ons moet God se liefde uitleef en goeie vrug dra.

 

Na die verslae van die Sekretaris, Tesourier en Bemarker stel Mariët van Niekerk, Sirkelsaamroeper Kunste en Handvlyt, die plaaslike Kunstenaar van die Jaar, Alma Fouché van Willowmore, bekend.  Een van haar kunswerke word uitgeloot en gewen deur Carina Esterhuizen.

 

Openingspreker Kjersti Lie Holtar is van Noorweë en bly vir ‘n gedeelte van die jaar in Suid-Afrika.  Sy vertel die interessante en inspirerende verhaal van hoe sy betrokke was met afgeleë plaaslike gemeenskappe in Namibië en Suid-Afrika om armoede te verlig.  Sy het gevoel dat meer gedoen moet word as om slegs geld te skenk vir arm gemeenskappe en het begin om die handwerk wat hulle maak te bemark.  Uiteindelik het hierdie betrokkenheid gelei tot die stigting van Karoo Angels, ‘n besigheid in Willowmore wat ‘n reeks engele wat in Vondeling en Rietbron gemaak word, verkoop en ook uitvoer na Noorweë.  Die eerste engel is in 2006 gemaak en vandag is daar meer as 50 engele in die reeks, elk met ‘n unieke naam en eienskappe.  Plaaslike produkte soos merinowol en volstruisvere word gebruik in kombinasie met fyn brei- en hekelwerk van draad, kraletjies en ander ornamente.  Die gemeenskappe waar vervaardiging plaasvind word opgelei en opgehef en is persoonlik betrokke in die besigheid.

 

Spreker Kjersti Lie Holtar van Karoo Angels en haar man Eric

 

Die heerlike verversings tydens oggendtee word deur Steytlerville Tak voorsien.

 

 

Na die breuk is geleentheidspreker Erns Grundling aan die woord.  Op sy unieke rustige en outentieke manier neem hy die gehoor saam op sy pelgrimstogte in die Camino en Japan.  Hy verduidelik dat ons elkeen op ‘n pelgrimstog deur die lewe is en dat die grootste geskenk wat jy aan ander kan bied die mees bewustelike weergawe van jouself is.  Dit is slegs moontlik as mens leer om jouself te aanvaar, na jouself om te sien en ook jouself lief te hê.  Hy vertel ook van sy stryd teen die “swart hond”, naamlik depressie, en hoe hy dit voortdurend bestuur en doelbewus onder beheer hou.  Geluk is nie ‘n eindbestemming nie – dit is in die oomblik – hier en nou.  Hy daag die gehoor uit om tyd af te sonder sonder selfoon en sosiale media wat deesdae ‘n verslawing is – om sodoende meer te fokus op die oomblik en die lewe bewustelik te waardeer.  Tydens middagete verkoop sy boeke, wat hy vir elkeen persoonlik onderteken, soos spreekwoordelike soetkoek.

 

Sirkelbestuur met spreker Erns Grundling  Vlnr:  Joey Fourie, Marietjie van der Walt, Moniques Buchner, Mariët van Niekerk, Erns Grundling, Hannelie Low, Marlene Erasmus, Lea van der Vyver, Sunette van Deventer en Marika Taljaard

 

Tydens haar presidentsrede borduur Hannelie Low gedagtes rondom VLVK se 2020 tema, naamlik “Belê in Vroue”.  Die rol van die vrou – beide tradisioneel en in vandag se moderne samelewing – word beklemtoon.  Ons moet bewustelik positief leef en nie deelneem aan negatiewe gesprekke nie.  Ons moet uitreik na ander en goedheid bewys in ons gemeenskappe en aan die om ons – nie omdat dit ‘n plig is nie, maar ‘n vreugde.  Ons moet minder krities wees, ook teenoor onsself – waar jy vandaan kom is minder belangrik as waarheen jy oppad is.  Leef elke dag voluit en weet dat jy ‘n verskil maak.

 

Jacques Strydom van Sanlam, een van die borge van die dag, deel die belangrikheid van persoonlike versekering en beplanning vir onbeplande sterftes.  Hy stel ook vir Dina Barnardt aan die woord wat vertel van haar ervaring na die skielike afsterwe van haar man en hoe versekering haar in staat gestel het om voort te gaan met die familie boerdery in moeilike omstandighede.

 

Die sessie word afgesluit met ‘n komiese opvoering deur Emercia de Lange en Mariné Botha van PEAAT toneelagentskap wat die gehoor behoorlik laat skaterlag.

 

 

 

 

 

 

 

 

Middagete deur Willowmore is voorwaar ‘n egte Karoofees – gebraaide skaaptjops, sosaties en wors voorgesit met ‘n verskeidenheid eksotiese slaaie en roosterkoek.  Die ete word afgesluit met ‘n keuse van watertand kaaskoeke in verskeie vrugtegeure.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hannelie Low bied ‘n oorsig van die jaarverslag en sirkelorganisasie aan.  Met die prysuitdeling word 34 trofees oorhandig en Alexandria verwerf die meeste punte vir die kompetisies, met Carpe Diem in die 2de en Hercula in die 3de plek.

 

Nominasie uitslae word bekendgemaak – Hannelie Low is herkies as Sirkelpresident, Lea van der Vyver as beide Visepresident en Sekretaris en Mariët van Niekerk as Bemarker.  Sanmarie Vermaak is as nuwe Sirkelsaamroeper verkies.  Lynette Martin, vorige Sirkelpresident, bedank Marietjie van der Walt, uittredende Sirkelsaamroeper Gesondheid, vir haar onbaatsugtige diens aan VLV en voorbeeld van positiwiteit en entoesiasme waarmee sy ander inspireer het.

 

Willowmore word bedank vir hulle ongelooflike gasvryheid waarmee die suksesvolle Karoo konferensie aangebied is.

 

Konferensie Borge en Program

 

 

 

 

 

 

Tafelversierings volgens tema

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Karoo Angel

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 Roosterkoek braaiers

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kompetisie artikels – Hekelwerk: Amigurumi – 2 verskillende diertjies

 

 

 

Leave a Reply