Mev. Bach in Petrusville

 

Mev. Bach in Petrusville

Posted by VLV in News, Petrusville Tak 23 Jul 2014

Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Petrusville

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Alta Waldeck

Datum: 22 Julie 2014

 

Ons tak was baie bevoorreg dat Anna Magdalena Bach, eggenote van die orrelvirtuoos en Barok  komponis, Johann Sebastian Bach, met ons laaste vergadering by ons besoek kom aflê het.

 

Anna het ons meer vertel van hom en hulle lewe. Sy is sy tweede vrou – hy was eers getroud met Maria Barbara by wie hy 8 kinders gehad het van wie slegs 4 oorleef het.

 

In 1705 het Johann Sebastian 4 weke verlof geneem om na die beroemde orrelis, Buxtehude, te gaan luister. Hy het  ongeveer 320km gestap na Lübeck. Hy het ook les geneem by Buxtehude en eers na 4 maande teruggekeer na Weimar waar hy erg aangespreek is deur die kerkraad. Ook sommer oor die lang stukke wat hy speel, sy ingewikkelde begeleiding wat die gemeentesang ontwrig en die moeilike koorwerke. Hy was behoorlik omgekrap en het bedank. Die oudste twee kinders, Wilhelm Friedemann en Carl Philip Emanuel, het ook bekend geraak as musikante en komponiste. Kort na Maria se dood in 1720 is hy met Anna, ‘n sangeres, getroud. Daar is 12 kinders uit hul huwelik gebore waarvan slegs 6 oorleef het. Hulle was baie gelukkig getroud en hy het die bekende “Bist du bei mir” spesiaal vir haar gekomponeer.

 

Mev. Bach het haarself begelei op die klavier terwyl sy die lied vir ons gesing het. Hy het vir al die kinders les gegee en hulle het in die aande almal saam musiek gemaak. Hy het ook ‘n boek, “Nötenbüch für Anna Magdalena Bach”, saamgestel.  Johann Sebastian was by die huis ‘n sagte liefdevolle mens, maar kon baie uitgesproke wees. Hy het ook nie altyd baie goed met sy kollegas oor die weg gekom nie. Hy was baie bekend as orrelvirtuoos en sy voetwerk was as ‘gevleueld’ beskryf. Hy het ook gesukkel om dissipline te handhaaf in die koorklasse en die seuns het gekla oor die moeilike koorwerke wat hulle moet sing. Hy was baie lief vir die Duitse kerkliedere en het die bekende “Orgelbüchlein” met 46 koraalvoorspele geskryf wat vandag nog deur kerkorreliste gebruik word. Hulle was nie ryk nie en omdat Johann Sebastian so gesukkel het met die koorklasse, het die hoof sommer sy salaris ook verminder. Sy orrelleerlinge het darem die salaris help aanvul. Hy het ook wêreldlike musiek geskryf, die ‘Koffiekantate’ en’Verjaardagkantate’, wat by pieknieks opgevoer is. Teen die einde van sy lewe het Johann Sebastian oogprobleme ontwikkel en ‘n operasie het die probleem vererger.Op 28 Julie 1750 is hy as arm man oorlede. Sy oorskot is later opgegrawe en herbegrawe in die St. Thomas kerk.

 

Aan die einde van haar praatjie het mev. Bach Johann Sebastian se bekende ‘Minuet in G’ gespeel terwyl die lede met slaginstrumente meegedoen het.

 

IMG_0933

Magdaleen Venter (spreker).

Post a comment

12 + 12 =