Mercy Ships bring hoop aan baie

 

Mercy Ships bring hoop aan baie

Posted by VLV in Langebaan Tak, News 25 Jun 2019

Sirkel: Weskus

Tak:  Langebaan

Studierigting: Gesondheid

Beriggewing:  Cynthia Huysamen

Datum:  5 Junie 2019

 

Met 125 lede in ‘n tak is daar nie genoeg dae in ‘n maand om die grootste deel van ons VLV vriendinne te sien nie en daarom is die maandelikse vergadering vir my so lekker.  Die ander lekker ding, is die verrassing van die saal se dekor wat altyd net pragtig is en ek glo, deur almal waardeer word.

 

VLVK se 2019 Projek Plastiek, ons vyand – ons lede se herwinningstalente het op ‘n uitstallingstafel gepryk.

 

Na afloop van die hoofverrigtinge, stel Nita Fourie die gasspreker voor.

 

Spreker:  Brenda van Straten – Nasionale Direkteur van Mercy Ships.

 

Brenda het die agtergrond van die organisasie en algemeenste siekte-toestande, asook ‘n paar suksesverhale met ons gedeel.

 

Meer as 2 biljoen mense regoor die wêreld het geen toegang tot mediese sorg en broodnodige operasies nie.  Duisende mense ly aan tumors, katterakke of misvormde ledemate en hul toestande is fataal.  In God se oë is elke mens se lewe belangrik en is hul geregtig op goeie mediese sorg en dis hoekom Mercy Ships daarop uit is om so veel moontlik mense te bereik deur middel van hul hospitaalskepe.

 

Dit is hoe hulle dit doen: Met die hospitaalskip, Africa Mercy, gaan hulle na hawestede om gratis mediese sorg en opleiding te bied vir 10 maande van ‘n jaar.  Aanboord van hierdie drywende “dorpie” woon meer as 400 mense van lande oral in die wêreld.  Daar is verpleegsters, kokke, eerste stuurmanne, tandartse – almal vrywilligers.

 

Die voorbereidingspan sal die aankoms van die skip regoor die land bekendmaak.  Duisende potensiële pasiënte sal opdaag en ondersoek word vir moontlike keuring.  Diegene wat gehelp kan word, sal ‘n kaart kry met die datum waarop hulle hul gratis operasies aanboord sal kry.

 

Die pasiënte word in vyf teaters opereer en versorg.  Hierdie mediese sorg, verander dié mense se lewens vir ewig.  Mense word bevry van lewensgevaarlike groeisels, kinders met misvormde bene kan weer loop en babas met gesplete lippe/verhemeltes kan weer normaal eet en drink.  Met hierdie fisiese genesing, kan mense uitsien na ‘n toekoms met nuwe moontlikhede.  Iemand wat voorheen deur sy/haar gemeenskap verstoot was, word nou aanvaar as een van hulle.

 

Ons missie is om gesondheidsorg in elke land te verbeter, want elke mens is kosbaar en geregtig op goeie sorg.  Ons doen dit met direkte bystand, die operasies en indirek, die opleiding van plaaslike mediese personeel per land van verblyf.  In amper elke mediese departement aanboord en op land, werk hulle saam met Mercy Ships se mediese span om meer te leer oor hul professies, sodat hulle hul eie mense beter kan help en hierdie kennis ook oordra aan hul kollegas.

 

Nà tien maande, breek die tyd aan om te groet.  Duisende mense is verseker van ‘n nuwe, beter toekoms as gevolg van die mediese sorg wat hulle ontvang het en honderde opgeleide mediese professionele mense kan ‘n verskil maak aan hul eie mense deur die kennis wat hul opgedoen het.  Die skip verlaat, maar die impak sal altyd bly.  So vertrek die skip na die volgende land.

 

As julle deel wil wees van hierdie organisasie, kan julle dit so doen:

  • Deur middel van GEBED, want dit is baie belangrik om te bid vir die pasiënte en vrywilligers op die skip. Besoek mercyships.co.za om huidige gebedspunte te vind.
  • Bly ingelig met ‘n papier of digitale NUUSBRIEF en kry indrukwekkende stories oor pasiënte, huidige poste en die nuutste nuus. Besoek mercyships.co.za/contact
  • Sluit aan as VRYWILLIGER. Daar is meer as 150 verskillende kort- en langtermyn posisies beskikbaar aanboord.  Besoek mercyships.co.za/volunteer
  • DONASIES – met jul finansiële ondersteuning kan ons ‘n nuwe toekoms aan duisende mense bied. Jou geskenk kan aanlyn gegee word by mercyships.co.za/donate of via EFT.
  • Kontakbesonderhede: Tel: 021 788-3088 / zaf@mercyships.org / www.mercyships.co.za NPO Nr: 181-575 NPO.

 

Mercy Ships is afhanklik van donasies en Langebaan VLV dames het hul harte en beursies vandag oopgemaak, want trane van dankbaarheid het gevloei toe R4000.00 ingesamel is op hierdie dag – ‘n GROOT DANKIE van Louna en haar groep.

 

Elmine Archibald bedank die spreker en oorhandig ‘n mooi bos blomme en die spreker bedank ons vir die donasie.

 

Ons maandelikse kompetisies is weer goed ondersteun en so ook die marktafel.  Die Gesondheidsgroep het ons bederf met ‘n verskeidenheid heerlike sop, vetkoek en vetkoek se maatjies.

 

Dankie aan al die dames van Gesondheid wat vir ons so ‘n lekker vergadering gereël het.

 

Gesondheidsgroep

 

 

 

 

 

Brenda van Straten en Louna Niehaus

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


Donasie van R4 000 word oorhandig

 


Projek Plastiek

 


Voorstelling van Mercy Ships se Skip

 


Vetkoek en Sop op die Spyskaart

 


Die Tafelversierings was pragtig

 

 

 

 

 

 

Rokkie gemaak van Plastiek

Leave a Reply