Maanhaar van ‘n sjef

 

Maanhaar van ‘n sjef

Posted by VLV in News, Voëlvlei Tak 18 May 2014

Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Elize Locke

Datum: 17 Mei 2014

 

Om ‘n kookdemonstrasie deur ‘n “McGuyver” van die kombuis naamlik, JC Nortier, by te woon, was beslis ‘n belewenis.  Nege dames van Voelvlei VLV het die geleentheid wat deur Herbertsdale tak gereël is by Gondwana Privaat Natuurreservaat bygewoon. 

 

JC het aan die Marco Pierre White Restaurant School in London gestudeer.  Hy het aan die realiteitskookprogram “Gordon Ramsay F-Word” deelgeneem en ‘n tweede plek behaal.  Die kompetisie maak vir hom deure oop wat hom die geleentheid bied om vir Jamie Oliver in London en Italië te werk.  Hy het verskeie toekennings gewen, o.a. Chef of the Year 2011. 

 

JC demonstreer aan die ongeveer 60 dames die fynere kunsies rondom tuisgemaakte pasta soos spaghetti, tagliatelle, tortellini en ravioli.  Die ravioli-gereg wat hy demonstreer bestaan uit ‘n pasta vierkant met ‘n gemengde vulsel van roomkaas, suurlemoenskil en sout wat in ‘n sirkel bo-op die pasta gespuit word.  Binne die sirkel word ‘n rou eiergeel gesit en die tweede pasta vierkant bo-oor.  Die pakkie word dan goed geseël en in water gekook vir 2-3 min.  Intussen maak hy ‘n sousie van botter en salie en baie dun gesnyde biltong.  Slegs een ravioli word saam met die bottersous bedien.  Wanneer die ravioli oopgesny word, loop die gaar eiergeel stadig uit die gereg uit!  In Jamie Oliver se restaurant in Bath, het ‘n soortgelyke voorgereg 35 Britse pond gekos!  Praat van ‘n goue eier.

 

Na die kookdemonstrasie word ons op ‘n wildsrit geneem.  Daar was baie oe’s en aa’s, veral toe ons op ‘n groep leeus afgekom het waar die mannetjie en drie spruite aan ‘n sebrakarkas vreet.  Toe die maanhaar opstaan het ons in ons sitplekke geritereer!  Gondwana is beslis ‘n besoek werd!

 

Baie geluk aan Emsie Marx, voorsitter van Herbertsdale, en haar span wat so ‘n wonderlike dag met ons gedeel het.

LNR Johlene Muller; Elize Locke; Marie Hough en Elmarie Engelbrecht.

Post a comment

19 + twelve =