Maak mooi met min

 

Maak mooi met min

Posted by VLV in Hantam Tak, News 25 Jul 2014

Sirkel: Namakwaland

Tak: Hantam

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Janine Brynard

Datum: 25 Julie 2014

 

‘n Mens kry twee verskillende soorte kliënte by ‘n winkel se kasregisterry:  dié wat onthou om hul eie inkopiesakke saam te neem winkel toe en daardie wat elke keer een moet koop…dalk omdat hulle vergeet het om hul eie in die handsak te gooi, of anders bloot omdat hulle nie omgee om elke keer die vyftig sent te betaal nie.

 

Dit kan egter nogal ‘n aardige bedraggie raak aan die einde van die maand, as jy al daardie plastieksakkies by mekaar tel – iets wat jy eerder op ‘n ander bederfie kon spandeer.  Maar die eintlike probleem is mos maar die rommel aan die einde van die ketting.  Die meeste van ons dink nie eens meer daaraan, dat alles wat ons in die vullisblik gooi, iewers op ‘n vieslike, stinkende, toksies-rokende hoop beland nie…

 

Dis al geruime tyd, dat die VLVK, en ook meer onlangs die WBPV, aan hierdie kwessie aandag gee.  Behalwe om haar lede bewus en paraat te maak van besoedeling en rommelstrooiing, word projekte jaarliks geloods om hierdie brandende kwessie aan te spreek.  Wanneer die verslae voorgehou word, kan ‘n mens dan ook sien, dat daar veel gedoen word om ons omgewing skoon te probeer hou, deur daadwerklike pogings aan te wend om te bewaar, te bespaar en te herwin.  Wat die lekkerste is van hierdie projekte, is hoe dit ‘n mens laat voel, wanneer jy besef jy het ‘n verskil gemaak – hoe klein ook al.

 

Hantam VLV het ook deelgeneem aan die projek van herwinning deur inkopiesakke uit afvalmateriaal te maak.  Nelia Schutte, het tydens die pas afgelope vergadering gedemonstreer hoe om ‘n pragtige, nuttige en sterk sak te maak, uit afvalstukke plastiek.  Die lae word op mekaar gepak tussen twee lae bakpapier, met motiewe, kleure , patrone en selfs geskrewe gedeeltes soos jy dit verkies.  Hierna word dit met ‘n koel yster ge”stryk”, sodat die plastiek in mekaar kan smelt.  Die panele word dan aan mekaar vasgewerk en ‘n band aan gestik.  Dis regtig ‘n prettige, praktiese manier om al daardie plastieksakke lewe te gee en daar is geen beperking op jou kreatiwiteit nie.

 

En terwyl ons dan nou so graag skoner en groener leef, belê gerus in ‘n paar sonkrag-katoeters.  Jacque Jacobs het rondgesnuffel oor die nuutste idees om energie én geld te spaar.  Deesdae kan jy sommer jou selfoon of kamera se batterye met ‘n miniatuur sonpaneeltjie herlaai, terwyl jy om die blok gaan stap met jou honde.  Of jy kan gaan opsit met ‘n sonaangedrewe kers!  Ja-nee…dis nou maar wors!  Nes jy dink jy het álles gesien, dan dink hulle dááraan…

 

1

 

Nelia Schutte van Hantam VLV, het tydens die Kunste & Handvlytvergadering gedemonstreer hoe om ‘n sak uit afvalplastiek te maak.  Hier word die verskillende lae op mekaar gepak, tussen twee lae bakpapier.

 

2

3

 

Die voltooide panele, word aan mekaar vasgewerk, sodat dit ‘n nuttige, pragtige sak vorm.  Werk bande aan die bo-rant vas, en siedaar!  Onthou net volgende keer om jou unieke sak saam te neem, wanneer jy gaan inkopies doen!

 

4

 

Jacque Jacobs het ‘n paar nuwe katoeters gewys, wat jou lewe makliker kan maak:  Herlaai jou batterye met ‘n sonpaneeltjie, so groot soos jou selfoon;  gebruik ‘n glasfles met ‘n piepklein sonpaneeltjie om lig te maak binne én buite jou huis en vervang die goeie ou vetkers met sy son-aangedrewe eweknie – baie makliker én veiliger!

 

5

 

Kunste & Handvlyt-span:  V.l.n.r. is Kirsten Fourie, saamroeper van die vergadering, saam met haar hulpe Jacque Jacobs, Karin van der Merwe, Nelia Schutte en Karien van Schalkwyk wat ‘n baie oulike program aangebied het.  Knap gedaan!

Post a comment

1 × four =