‘n Inspirasie vir ander

 

‘n Inspirasie vir ander

Posted by VLV in Jamestown Tak, News 23 Nov 2017

Sirkel: NOK

Tak: Jamestown

Studierigting: Opvoeding&Kultuur en  Openbare Sake

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 22  November 2017

 

Op 22 November was Jamestown se VLV-lede voltallig, asook 3 besoekers by die jaar se Afsluitingsbyeenkoms op Grenda, plaas van Christo en Christell Venter.

 

Voordat geskenke aan spesiale taklede oorhandig is, het Christell gevra dat in eerbied opgestaan word vir vroue wat in die verlede diep spore in Jamestown se VLV getrap het, bv. stigtersvoorsitter mev. C.Henning, latere mev. Mona Nel, mev. Magriet van Biljon en haar skoondogter Joy. Elke VLV-man het ook ‘n geskenk ontvang vir hul geduld en samewerking, en Cecile Nel het haar 25 jaar-knopie ontvang.

 

Susan Prinsloo van Aliwal-Noord het kom vertel van haar ervarings en emosies tydens die Karoo Tankwa-staptog saam met 64 ander (onbekende) persone. Op haar eerlike en gemaklike manier het sy almal teenwoordig gemotiveer en laat meeleef wat só ‘n uitmergelende 260 km staptog vir jou as mens kan beteken. Sy het begin stap toe sy haar gewig die stryd aangesê het – nie noodwendig om gewig te verloor nie, maar om gesonder te voel. Eet gesonder en weeg jouself gereeld, maar moenie dat die skaal jou baas wees nie!

 

Die Camino Tankwa loop vanaf Calvinia in die Hantam na Ceres in die Warm Bokkeveld – deur ‘n laaaaang pad van NIKS. Elkeen moes 10 dae lank self sy/haar tent dra, asook ander etes & medikasie, maar die groep het darem elke aand ‘n groot aandete gekry. Daar is geen selopvangs nie, en waterpunte (en emmer-toilet) elke 5km. Hulle het aanvanklik die 20-25 km per dag gemaklik geloop, maar die probleme het teen die 4de dag begin!  Blaasinfeksie a.g.v. die die stampery tydens die baie stap,  en blase op verskeie plekke aan die liggaam is van die grootste probleme. ‘n Lorrie kon jou enige tyd oplaai, maar niemand wou tou opgooi na die vorige dae se moeite nie.

 

Enkele wyshede waarvan Susan in die proses opnuut bewus geword het, is dat die lewe te kort is om vervelig te leef – LééF! Moenie iets (bv. mooi breekgoed) bêre vir spesiale geleenthede nie – máák ‘n spesiale geleentheid.

 

Niemand kan vir jou Selfrespek en Selfliefde gee nie – net jyself. Trek ook op die plaas (afgeleë en alleen) mooi aan en grimeer elke dag. Moenie HOOP verloor nie. Kry elke dag iets positiefs om jou dag te maak.

Susan was so geïnspireerd dat sy ‘n paar maande later weer ‘n 46 km-staptog tussen Hofmeyr en Steynsburg in die Noordoos-Kaap aangepak het!  Hofmeyr se predikant en ‘n aantal gemeentelede het die afstand as uitdaging gestap, maar Susan het dit vir 3 vriendinne gedoen wat kanker opgedoen het.

 

 

Ten slotte het Christell almal gevra om veiligheid op te skerp en bedag te wees. Antoinette van Pletzen het wenke oor Plaas- en Huisveiligheid uitgedeel, asook oor hoe om by ‘n polisiepadblokkade op te tree.

 

By ‘n polisiepadblokkade: 

  1. Trek af; moenie wegry nie.
  2. Bly kalm, beleefd en toon respek.
  3. Verskaf persoonlike besonderhede indien dit gevra word.
  4. As daar ’n boete of oortredingskennisgewing aan jou uitgereik word, teken dit en vermy ’n argument; moenie ongeskik of aggressief raak nie.
  5. Moenie by ’n omkopery betrokke raak nie; jy kan vervolg word.
  6. As ’n polisie- of verkeersbeampte in uniform jou voertuig voorkeer en jou identiteitsbesonderhede vra, is jy verplig om dit te gee. ’n Verkeersbeampte het toestemming om vir jou ID-dokument en rybewys, wat jy altyd by jou moet hê wanneer jy bestuur, te vra. In sommige gevalle mag ’n polisiebeampte ook daarop aandring om jou voertuiglisensie te sien, of vra dat jy dit binne ’n week by ’n polisiestasie gaan toon.
  7. Daar was al gevalle van misdade wat gepleeg is deur misdadigers wat hulle as polisie- of verkeersbeamptes voordoen. Daarom is dit jou reg om te vra om ’n beampte se identifikasie (aanstellingsertifikaat) te sien. Indien ’n beampte weier om identifikasie te toon, kan jy ’n aantekening van sy/ haar voertuigbesonderhede maak en dit later gaan rapporteer, maar hou kop en bly kalm.”

 

Susan Prinsloo aan die woord

 

Cecile Nel (regs) het haar 25 jr-knopie van voorsitter Christell Venter ontvang

 

Voor: Antoinette van Pletzen, Hilda v/d Walt, Christell Venter, Philna van Pletzen

Agter: Marlene Lategan, Drini van Pletzen, Marisa van Pletzen, Cecile Nel, Lucia Lieberum, Mariana van Pletzen, Nikola van Buren.

 

 

 

Post a comment

five × 2 =