Letterkunde- en musiekvasvra laat lede kopkrap!

 

Letterkunde- en musiekvasvra laat lede kopkrap!

Posted by VLV in Kuruman Tak, News 19 Jun 2014

Sirkel: Kalahari
Tak: Kuruman
Studierigting: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Petro Spangenberg
Datum: 18 Junie 2014

Die Kunste en handvlytgroep met Santa Lamprecht as saamroeper het op 18 Junie in die Gereformeerde kerksaal ‘n baie lekker vergadering aangebied.

Henrike Prinsloo, ‘n model by E!Models in Bloemfontein, het gepraat oor die modelklasse wat sy vir 4 tot 8 jariges gegee het. Sy leer hulle om ‘n trotse houding te hê en dat almal mooi is. Veral skaam kinders baat daarby om so vroeg as moontlik selfvertroue aan te leer.

Hierna is ‘n musiekvasvra uit die  FAK liederebundel gehou met leidrade en een of twee note op ‘n klawerbord. Die lede het behoorlik kopgekrap. Janet West het verskeie temaliedere uit bekende rolprente voorgespeel en lede moes raai watter rolprent, lied se naam en die kunstenaar wat dit bekend gemaak het. Die jonger lede is defnitief die mense wat meer flieks kyk!

Die digkuns afdeling het egter die ouer breine meer geprikkel en versreëls uit Winternag, Bitterbessie dagbreek, Die ruiter van Skimmelperdpan en Op my ou ramkietjie kon maklik herken en by die regte digters gepas word. Boonop word daar elke maand een gedig voorgelees uit die 100 gewildste Afrikaanse gedigte wat verlede jaar deur Leserskring uitgegee is.

Daar is veral by die lede gepleit om Afrikaanse idiome en sêgoed lewend te hou deur dit op plakkate te druk en byvoorbeeld oral in die huis op te plak. Dit is hartseer dat sekere gebruike net een generasie van verwaarlosing nodig het om dit te laat uitsterf! Woorde soos beeshaas, karmenaadjie en karnuffel laat menige jongmens se wenkbroue lig omdat hulle dit nie meer hoor nie!

Dit was lekker om kort voor die skoolvakansie net ‘n heerlike ontspanne vergadering te hou en herinner te word aan ons kultuurerfenis! Liana Muller bring ook gereeld ‘n tas vol boeke saam waarvan die lede kan uitneem en sodoende die groot skrywers se werke by mekaar kan aanbeveel.

Die middag is afgesluit met sjerrie en pannekoek met roomys!

Henrike Prinsloo, 'n model by E!Models in Bloemfontein, wat die lede toegespreek het oor die voordele van modelklasse vir jong meisietjies sodat selfvertroue vroeg-vroeg aangeleer kan word. Tannie Annatjie Nel luister aandagtig!

Henrike Prinsloo, ‘n model by E!Models in Bloemfontein, wat die lede toegespreek het oor die voordele van modelklasse vir jong meisietjies sodat selfvertroue vroeg-vroeg aangeleer kan word. Tannie Annatjie Nel luister aandagtig!

 

Post a comment

18 + 13 =