Landbou in pienk en rooi

 

Landbou in pienk en rooi

Posted by VLV in Nieuwoudtville Tak 12 Feb 2015

Sirkel:  Namakwaland

Tak:  Nieuwoudtville

Portefeulje:    Landbou

Beriggewer:  Irma van Niekerk

Datum:   12 Februarie 2015

 

Vir die eerste vergadering van 2015, het die lede die grondpad gevat na die plaas Grasberg, waar  Mandie Kotzé en haar span hulle ingewag het vir ’n Landbouvergadering.  Met almal wat in pienk en rooi getooi was, het die lede sommer Valentynsdag ook gevier.

 

niewoudtville3 (Custom)

 

‘n Nuwe bestuur is gekies, en die lede groet Lulu Kotzé wat vir 18jr hulle uiters bekwame tesourier was.  Sy was ook ‘n stigterslid van die tak, wat reeds 50jr oud is.  Hulle groet ook Elsie Visser, wat 8jr Sekretaresse was.  Baie dankie vir die lojaliteit en entoesiasme waarmee hulle hul taak verrig het. Die lede verwelkom Mandie Kotzé as nuwe sekretaresse, en Erika Kotzé as nuwe bestuurslid.

 

niewoudtville1 (Custom)

 

Arika van Niekerk het die lede op ‘n interessante manier meer oor die boom en voël van die jaar vertel – die  “Bloukraanvoël” en die “Forest Bushwillow-boom.  Irma van Niekerk begin ‘n ‘boontjiesakkie’ projek wat aan die plaaslike skole geskenk sal word, wat gebruik word vir liggaamlike opvoeding.  Henriëtte v d Merwe steek voelers uit, om die plaaslike Biblioteek te ondersteun en op te knap.  Groot dinge word beplan.

 

niewoudtville2 (Custom)

 

Toe begin die groot pret. ‘n  Skattejag.  Almal het in die groot tuin rondgehardloop op soek na skatte:  Groente en kruie, om aan die einde te kyk watter saad by watter plant pas. Dit was geen maklike taak nie, dit het die lede behoorlik laat kopkrap.

 

Laastens sê hulle as Nieuwoudtville tak, baie geluk en sterkte aan Heidi van Niekerk wat gekies is as President van Sirkel Namakwaland by die pas afgelope Konferensie op Calvinia.

 

Baie geluk ook aan Mandie Kotzé, wat gekies is op die bestuur van  Sirkel Namakwaland in die portefeulje Kunste en Handvlyt.  Die lede is trots op julle!

 

niewoudtville (Custom)

Post a comment

six − 3 =