Laggende lede

 

Laggende lede

Posted by VLV in News, Voëlvlei Tak 29 Mar 2017

 

Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Elize Locke

Datum: 28 Maart 2017

 

Voëlvlei VLV vergader baie ‘gelukkig’!

 
Voëlvlei VLV het op 28 Maart ‘n baie geslaagde byeenkoms gehad op Vleesbaai.  Gesondheid was op die spyskaart en Mev Annemarie le Roux het as spreker die verband tussen geluk en gesondheid beklemtoon.  ‘n Mens se gesondheid loop hand aan hand met die mate van geluk wat jy ervaar.  Sy het die VLV dames baie goeie praktiese raad gegee oor wat om te doen om jou eie geluk te bevorder.  Die geheim lê volgens haar in ‘n lewe van dankbaarheid.  Om beheer te neem oor jou patrone en gedagtes, iets anders te doen as jou gewone roetine, kan jy die keuse uitoefen om geluk te ervaar.  Rustige asemhaling, oefening, meditasie en gebed wat in dankbaarheid plaasvind, kan jou help om op die positiewe te fokus.
Die dames het ook geleer hoe om met lagterapie al die goedvoelhormone aan die gang te kry.  Hulle het almal in laggende leeus verander en het sommer vergeet hoe om te brul!

 

  Brullende dames

Rika de Villiers het ‘n demonstrasie gegee van hoe om ‘anderse’ slaaie te maak, Lorette Grobler van Oliver Bande het die dames ingelig oor belangrike feite oor motorbande en Mien Naude het al die teorië oor Paasfees se hasies, eiers en paasbolletjies gedeel.

 

Rika de Villiers se anderse slaaie
Die kompetisies het interessante inskrywings gehad.  Turkse lekkers, mikrogolf sjokoladekoek en ‘n ongewone potplanthouer het pragtige artikels voortgebring.

Voëlvlei VLV het ook terugvoering gegee oor die onlangse konferensie op Herbertsdale en is nie bietjie trots op die 12 trofeë wat die tak gewen het nie.   Linzetta Smit het 1ste plek behaal vir Borduurwerk en haar Hardanger middellap is ook aangewys as die mees uitstaande artikel op Konferensie.  Johlene Muller, Elmarie Engelbrecht, Elize Locke, Mien Naudé en Alta Landman is trofee wenners in verskillende afdelings.  Hierdie dames, asook ander inskrywings, het daartoe bygedra dat VLV Voëlvlei weereens die trofee vir die tak met die Meeste Punte verower het asook die gesogte “Simply the Best” beker is weer aan die tak toegeken.

 

Diensknopies word oorhandig aan Elmarie Engelbrecht en Marie van Rensburg vir 20 jaar lidmaatskap en vir 45 jaar aan Freda Menderoi.

 

Elmarie Engelbrecht, Freda Menderoi en Marie van Rensburg

 

Die dames is almal met ‘n ‘leeulag’, en nie met die ‘leeuloop’ nie, huis toe.

 

Johlene Muller, Linzetta Smit, Elmarie Engelbrecht, Elize Locke, Mien Naude

 

 

 

Post a comment

fourteen − thirteen =