Laat ‘n Voetspoor

 

Laat ‘n Voetspoor

Posted by VLV in News, SIRKEL NUUS 20 Oct 2018

Sirkel: Overberg

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 20 Oktober 2018

 

VLVK-KONGRES neem kennis van Overbergse talent en blommeprag

 

Die 89ste Jaarkongres van die Vrouelandbouvereniging van Kaapland is op 23 en 24 Augustus by Goudini Spa aangebied. Meer as 300 kongresgangers uit alle uithoeke van Kaapland het hierdie geleentheid bygewoon.  Die 15 VLV-lede van Sirkel Overberg het saam met Sirkelpresident Rienie Ludick ‘n kongres vol pitkos belewe. Op die verhoog was o.a. die landbouleiers Johannes Möller, uitgetrede President van Agri SA en Cornie Swart, President van Agri Wes-Kaap. VLVK het ‘n oorkonde aan mnr Möller oorhandig vir sy bydrae aan georganiseerde landbou en mnr Swart het die groete van die landbougemeenskap aan Kongres kom oordra. Beide het die kongresgangers verseker dat daar nie grondgrype gaan wees nie en dat eiendomsreg eerbiedig sal word. Daaroor maak georganiseerde landbou nou hulle stem dik. In aansluiting by Kongres 2018 se tema “Laat ‘n Voetspoor”, het albei hierdie landbouleiers gewys op die bydrae wat boere in Suid-Afrika gemaak het. Geen dekade sedert Uniewording was sonder uitdagings nie en die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap gaan ook nie nou wegskram van uitdagings nie. Te midde van droogtes, waterkrisisse, onsekerheid oor grond, ens., sal daar gesorg word vir voedselsekerheid, en vroue moet nooit vergeet dat hulle een van die pilare is wat landbou onderskraag nie.

 

Ander interessante sprekers was die gasspreker, ds Fanie Kriel, wat perspektief gegee het op voetspore in ‘n veranderende wêreld, Romanda Viljoen, onderwyseres van Worcester Gimnasium wat verduidelik het hoe werk e-leer, Francois Grobbelaar wat die vernietigende uitwerking van Fetale Alkohol Sindroom uitgewys het en Alida Jones wat met die “Drive More Safely”-projek iets aan die skokkende padsterftesyfer probeer doen. Uitstaande was die praatjie en daarná die bekendstelling van die kosredaktrise van Tuis, Johanné Nielsen se kosboek TA-DA! en die kongresgangers het behoorlik tougestaan om getekende eksemplare te koop.

 

Vir die Overbergers het Corrie Fogwill, voorsitter en afgevaardigde van die Caledon-tak, se prestasie egter uitgestaan. Sy het met haar eerste deelname aan die VLVK-breikompetisie, die Rita Viljoen-trofee wat vir die eerste plek toegeken word, verower vir ‘n treffende damestrui om oor ‘n spanbroek te dra. Barbara Mandy van Bredasdorp het ‘n derde plek met haar weefartikel behaal en Annette van Eeden, Bredasdorpse afgevaardigde kon dus vir haar die Piketbergtrofee huis toe bring. Dan was daar die ongelooflike verskeidenheid proteas, suikerkanne en ander fynbos wat oral in die saalrangskikkings, ruikers vir sprekers en op die tafels te sien was – alles afkomstig van Kaaimansgat Boerdery buite Villiersdorp. Voorwaar ‘n trotse belewenis om die waardering op die kongresgangers se gesigte te sien.

 

Cornie Swart, President van Agri Wes-Kaap, Karien van Schalkwyk, VLVK President en Johannes Möller, uitgetrede President van Agri SA en VLVK Dankie Persoon vir 2018.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Erika Lubbe, VLVK Argivaris saam met kosredaktrise van Tuis, Johanné Nielsen met haar kosboek TA-DA!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Pragtige proteas, suikerkanne en ander fynbos wat oral in die saalrangskikkings, ruikers vir sprekers en op die tafels te sien was.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die kompetisie inskrywings was van hoogstaande gehalte.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Feestelik gedekte tafels.

         

 

 

Mevrou Ronella Rademeyer by die koekies wat elke afgevaardigde ontvang het ter viering van haar 80ste verjaardag.

Post a comment

eighteen + twelve =