Laat goeie voetspore

 

Laat goeie voetspore

Posted by VLV in Brackenfell Tak, News 08 Feb 2019

Sirkel:  Tygerberg

Tak: Brackenfell

Beriggewer:  Lettie Van Wyk

Datum:  7 Februarie 2019

 

 

Soos gebruiklik, was die bestuur van Brackenfell weereens verantwoordelik vir die eerste vergadering van die jaar.  Dit was die 72ste verjaardagviering van ons tak.   Elke bestuurslid het ingespring en haar kant heelhartig gebring om van die oggend ‘n groot sukses te maak.

 

Die verjaardag is op gepaste wyse gevier met ‘n heildronk wat ingestel is met heerlike koue vrugtesap.   Die lede het vrolike hoede opgehad om die feestelikheid te verhoog.

 

Ds. Hugo Welch het die openingsboodskap gebring met die tema:   Laat ‘n Voetspoor.

 

Voordat hy egter die boodskap gebring het, het hy sy trekklavier opgeneem en ons het heerlik saam met hom Kinders van die Wind en Mannetjies Roux gesing.

 

Ds. Welch moedig ons aan om lig te loop.   Ons wil mense (omstandighede) beïnvloed met die goeie voetspore wat ons laat.   Maak afsprake – anders kom ons nie by mekaar uit nie!

 

Hy vertel dat hy en sy gesin gereeld na Bloubergstrand toe gaan, waar hy baie voetspore – klein en groot – op die sand sien.   Na ‘n  tyd was die golwe al die voetspore weg.   Golwe kom en gaan net soos die genade van die Here.    Almal het ‘n storie.   Ons moet mekaar aanmoedig, net soos ons ‘n kleintjie wat leer loop, aanmoedig om elke keer nog net een treetjie te gee.   Die Here juig oor die klein dingetjies  wat ons doen (klein treetjies wat ons gee).

 

As ons die dag nie meer daar is nie, wil ons graag hê dat mense ons moet onthou vir die mooi spore wat ons getrap het.

 

Dit bring ons by ons dierbare VLV-vriendin,  Annetjie Benzien, wie ons ontval het.   Riana Ellis het die mooiste gedenk-huldeblyk uitgestal.   Annetjie het voorwaar pragtige voetspore getrap in Brackenfell-tak, waar sy baie jare lid was en met haar stil geaardheid altyd gewillig en hulpvaardig was.   Ons eer haar nagedagtenis.   Annetjie, jy sal altyd onthou word en baie gemis word, altyd so getrou op jou pos!

 

Die lede is bederf met gevulde pannekoeke, die helfte gevul met ‘n heerlike hoendervulsel en die ander gevul met piesang en karamel.   Ons het heerlik saamgekuier en opgevang na die lang vakansie.   Almal is begeesterd om 2019 ‘n jaar te maak wat onthou sal word, ‘n jaar wat ‘n goeie voetspoor in ons geheue sal laat. ‘n

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hoed wil sy dra, en almal kyk daarna!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ds. Hugo Welch ons gasspreker

 

 

 

 

Elba van der Merwe (voorsitter) en Riana Ellis (sekretaris)

 

 

Foto-huldeblyk aan Annetjie Benzien deur Riana Ellis

 

 

Henna se blomme en heildronktafel

 

 

Post a comment