Kwa-Kwa-kotiljons-kaboeki

 

Kwa-Kwa-kotiljons-kaboeki

Posted by VLV in Acqua Tak, News 10 Oct 2012

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 10 Oktober 2012

 

Acqua tak is 28 jaar gelede gestig (toe bestaan VLVK reeds 55 jaar!) en steeds is ons vereniging en Acqua ‘n holte vir die voete van vroue wat hulself die tyd gun om horisonne te verbreed en grense te verskuif.

 

Elke samekoms is sonder uitsondering ‘n vrolike okkasie, ‘n geleentheid om uit die alledaagse sleur te ontsnap en altyd, altyd verrykend. Lidmaatskap is immer ‘n voorreg en plek in die VLV Acqua vriendekring is pure bederf!

 

Acqua se nom de plume is Kwa-Kwa. Te wyte aan die dame wat tydens Kongres 2006 redelik agter in die saal gesit het, nie mooi kon hoor nie en Acqua met Kwa-Kwa verwar het. Die Kwa-Kwa’s is ons dus. Vandaar die Kwa-Kwa-kotiljons-kaboeki ter viering van die tak se 28ste bestaansjaar.

 

Algar het aangetrek gekom as enige “persona” wat met ‘n “K” begin. Daar was ook ‘n deja-vu oomblik toe Kersvader en Klaasvakie – wat hulle nuusbrief verkeerd gelees het en reeds met die vorige samekoms opgedaag het in hulle uitrustings vir die kotiljons – wéér hul verskyning gemaak het. Krismis kom vanjaar sommer drie keer!

 

Die Krokodil het oopbek gelag met die Kloosterkoeke. Die Koordirigent het tyd verwyl met die Kolonel (‘n rêrige een!). Die Koninklikes het opgedaag met kroonjuwele en handskoene. Die Koerante en die Krieketspeler het gekuier saam met die Kokke, die Kabaretsterre, die Katte en die Koeie. Die Konstabel het die Konstruksiewerker en die Kelnerinne in toom gehou, terwyl die Kaapse Klopse, die Kakkerlakke en die Komiteelid skuiling gesoek het by die Kameeldoring. Kreatief was die Kwa-Kwa’s gewis!

 

Gelukkig is ons net vrouens, anders was daar seker heelparty Kakiebosse. Dalk ‘n Knol of twee?

 

Wat sou so ‘n K-paartie dan nou ook wees sonder Karaoke? Elke tafel het ‘n liedjie gekies en daar is lustig gesing aan Mamma Mia, Kaptein, Jan Pierewiet, Liefling en vele ander liedjies wat ‘n paar uithaler “moves” en baie interessante mikrofoontegnieke geverg het.

 

Die Kwa-Kwa’s het voorwaar ‘n prettige verjaarsdag vol Kaliber Kaskenades gehad!

Post a comment

one + four =