Kuruman vier 80 jaar met takbesoek, blomme en klei

 

Kuruman vier 80 jaar met takbesoek, blomme en klei

Posted by Natania Schmidt in Kuruman Tak, News 19 Sep 2013

Sirkel: Kalahari
Tak: Kuruman
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Petro Spangenberg
Datum: 18 September 2013

 
Op Kuruman tak se tagtigjarige feesviering, wat tydens die Kunste en Handvlyt vergadering gehou is, was daar heelwat vir die oog en die hart. Saamroeper Santa Lamprecht en haar lede het die lokaal pragtig versier met bloeisels en kanttafeldoeke, en baasbakster Retha-Jane Buys het spesiaal vir elke lid ‘n vrolike kolwyntjie gebak en versier.

 

Tannie Joeks Myburgh, ook in haar tagtigs, het geopen en gewys op die omgeewoorde in haar kaartjies wat sy gereeld aan verjaardaglede uitdeel. Waardeer mekaar terwyl julle lewe, spyt kom te laat – woorde wat sy beklemtoon!
Marelie Keuler het interessante blommerangskikkings vir spesiale geleenthede soos Kersfees gedemonstreer. Sy maak deurgaans gebruik van materiaalblomme wat kunstig gekombineer word met vars loof en interessante houers. Sy het selfs een van haar deftige hoede uit ‘n vorige era omskep in ‘n fokusrangskikking!

 

k1

Marelie Keuler wys hoe sy ‘n skuif gemaak uit gesmelte kerse gebruik om lang glas- of plastiekbuise deur te steek en te kombineer met blomme.

 

k2

Hier wys sy hoe om ‘n enkele groot kunsblom te gebruik en ook hoe om ‘n paar items in ‘n groot glasfles te pak wat dien as ‘n geleentheidsruiker.
Kuruman is vereer met ‘n besoek van Carien van den Berg, president van Sirkel Kalahari. Sy is vergesel deur Martie Eloff en Annelize Marx, twee vorige sirkelpresidente, asook Nellie Viljoen, sekretaris en tesourier van die sirkel. Carien se boodskap van drome wat groot moet wees en hoe dat grense ons nie moet beperk nie, maar verskuif moet word, was treffend en sal elkeen lank bybly!

 

k3

Annelize Marx, Carien van den Berg, Nellie Viljoen en Martie Eloff

 

Die twee tipes klei van volgende jaar se kompetisies is bespreek en elkeen kon iets vorm uit die lugdroogklei wat van houtlym, mielieblom en baba olie gemaak word. Die resep moet verdubbel word vir die vereiste grootte engel en word binne ‘n dag heeltemal droog.
Die polimeerklei is nie oral beskikbaar nie en lede word aangeraai om vroegtydig te begin aangesien gevorderde vaardighede belangrik is om ‘n artikel van goeie standaard te lewer.
Janet West het ‘n interessante inligtingstuk uitgedeel nadat sy navorsing gedoen het oor dinge en gebeurtenisse wat ook tagtig jaar gelede (1933) gebeur het. Wêreldwyd was die top musiekkunstenaars Bing Crosby, Paul Whiteman, Duke Ellington, Louis Armstrong en Guy Lombardo. Suid-Afrikaanse kunstenaar Aileen Lipkin word gebore in 1933,  asook Yoko Ono, Willie Nelson en ons geliefde Bessie Kriek. Sy kon egter nie die geleentheid bywoon nie weens ‘n skielike heupvervanging.
‘n Glasie sjerrie is geklink en die tak is daarna staande toegesing: Lank sal sy lewe, lank sal sy lewe…

 

k4

Carien van den Berg steek ‘n kers aan op VLV Kuruman se 80 jaar

Post a comment