Kunstig en kreatief

 

Kunstig en kreatief

Posted by VLV in Acqua Tak, News 14 Jun 2013

Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Sameroeper: Brenda Zandberg
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 12 Junie 2013

 

Die lekkerte van ‘n Acqua-kuier kleef dae lank soos wierook aan jou siel. Genoeglikheid het baie gestaltes, maar daar’s min wat die hart so warm maak soos die uitbundige samesyn van ‘n groep vriendinne. Die Kwa-Kwa’s het die geraasvlakke tot in die rooi gedruk tydens die pas afgelope Kunste & Handvlyt vergadering. En dis hoe dit moet wees, want wie kan nou stilbly, as die hande besig raak en die kreatiwiteit vloei?

 

Al gehoor van Encaustic Art? Acqua-lede het. ‘n Unieke kunsvorm waar jy met byewas, pigment, ‘n verfyster en soldeerbout (eintlik ‘n soortgelyke instrument, maar ons noem dit vir nou maar ‘n soldeerbout) in ‘n japtrap ‘n kunswerk kan skep, wat jou soos ‘n vernuftige kunstenaar sal laat lyk. Die kunswerk droog in sekondes en as jy nie hou van wat jy geskep het nie, beweeg jy bloot die yster oor die werk, voeg meer was by en skep ‘n hele nuwe voorkoms.  Nelmarie Oosthuysen van Peace of Art, ‘n kunsstudio waar werkswinkels in ‘n verskeidenheid kunsvorme aangebied word, het voor ons oë met byewas kom toor.

 

En toe het die aand vlerke gekry. Wat is ‘n engel dan nou ook sonder vlerke? Met 200g klei en ‘n sjabloon kon elkeen na hartelus vir haar ‘n engel maak. Daar was gerol en gesny, gelag en gepraat, gedruk en getrek. . .  Party engele het grootkop gekry, andere het spaghetti-hare gekry en heelparty is gebling tot kort duskant Indië. Soveel pret met ‘n kleine bolletjie klei had ons sekerlik in Sub A laas gehad. Die engele is versigtig huis toe gedra om daar ‘n ereplekkie te gaan vind, sodat ons met elke aanblik herinner kan word aan vriendinne wat wind onder jou vlerke sit.

 

kunstig en kreatief 4

 

kunstig en kreatief

Die bestuur het handjies uit die moue gesteek om klei te maak ter voorbereiding van vergadering.

Post a comment

5 × five =