Kuns in die tuin

 

Kuns in die tuin

Posted by VLV in Hofmeyr Tak, News 24 Jun 2014

Sirkel: Cradock
Tak: Hofmeyr
Portefeulje:  Kunste & Handvlyt
Beriggewer:  Teresa Opperman
Datum: 24 Junie 2014

Hofmeyr Tuinbouklub het tydens hul afgelope vergadering die VLV-lede uitgenooi om hul vergadering op Tafelkop in die distrik by te woon.  By die geleentheid  was Hettie Erasmus, bekende kunsskilder vanaf Steynsburg.  Hettie het ‘n demonstrasie gelewer rondom die skilder van blomme, en het ‘n skildery van kosmos in sagte skakerings geskep terwyl sy onderhoudend vertel het hoe om te werk te gaan.

image.axd-77

Hettie Erasmus.

 

Die vergadering is gehou in die tuin van Karen & Gerald Fletcher op die plaas Tafelkop in die Hofmeyr distrik.

 

‘n Blomskildery moet beplan word, en blomme kan nie eenvoudig net neergesit word nie –  kyk na lig en skaduwees en sorg altyd dat daar beweging is.  Wat kleure aanbetref is daar nie vaste reëls nie, met wildeblomme kan kleure lekker gemeng word en selfs grasse kan daarby ingewerk word.  By ‘n meer formele skildery moet daar ook meer opgelet word na kleurgebruik – ‘n geel roos gaan nie pas tussen rooi blomme nie.  Sy glo daaraan om kleur te beperk, want kleur domineer maklik en versteur die balans, die ritme en die beweging in ‘n skildery.

 

Vir houers kan basies enigiets gebruik word, en dit maak ook die eindproduk soveel meer aantreklik as daar interessante houers gebruik word.   Blikkies werk pragtig by wilde blomme.  Die houer moet by die tipe blomme pas,  dus ‘n fyn houer by fyner blomme, en ‘n growwe pot by groot en growwe blomme.  ‘n Eenvoudige houer lyk pragtig saam met kleurvolle blomme, en ook koper komplimenteer veelkleurige blomrangskikkings.
As ekstras in ‘n rangskikking kan dryfhout, vrugte, druiwe, of selfs ‘n boek of kers gebruik word.  Wees egter versigtig, want die ekstras moet die skildery komplimenteer en nie oorheers nie.
Balans word verkry deur die blomhouer net driekwart te vul met plantmateriaal.  Sorg dat die rand van jou blompot ook hier en daar deur blomme en blare verdoesel word.  Die watervlak moet ook realisties vertoon en lig moet weerkaats.
Wat lig aanbetref moet daar altyd aandag gegee word aan die rigting waaruit lig kom.  Te veel lig op ‘n skildery maak dit plat, hoewel dit pragtig helder kan vertoon.  Te min lig maak die skildery donker, dof, vaal en leweloos.  Sommige blomme moet in die lig wees, en sommige sal vanselfsprekend in die skadu wees.  Tweederde van die lig val in ‘n goeie plasing van bo en van die kant van ‘n rangskikking en een derde behoort dan in die skadu te wees.  Skadu’s word onderverdeel in direkte skadu, wat ook insluit die skadu by ‘n blom en agter ‘n blom, terwyl gewerpte skadu die skaduwee is wat op die oppervlak en onder blomme is – en hierdie gewerpte skaduwee gee besondere diepte aan ‘n skildery en verhoed ook dat voorwerpe dryf of ‘float’ in ‘n skildery.
Wat die plasing van blomme in ‘n skildery aanbetref meld sy dat blomme nie mag ‘soen’ in ‘n ranskikking of skildery nie.  Blomme kyk immers in verskillende rigtings, en is in ‘n rangskikking gerangskik om na voor, agter en die kante te kyk.  Die blomsteeltjies moet in die blompot pas, en die sentertjies van die blomme moet ook op blommetjies aangebring word wat ver in die agtergrond geplaas word, want dit versterk die illusie dat hulle duidelik sigbaar is.

 
Verskeie blomme word volgens verskillende vorms geskilder.  Klokvormige blomme word in ‘n silindervorm gevorm.  Hou altyd die skildery eenvoudig en nie oorvol, en as lewendige blomme gebruik word moet die leeftyd van die blom in gedagte gehou word.  ‘n Roos kan bv gebruik word, maar dan moet dit vanaf knopvorm tot volblomstadium op verskeie dae geskilder word.  Moenie blomblare verf wat jy nie kan sien nie,  en meng gerus jou kleur op die voorbereide doek.  Sy gebruik oker om haar doeke voor te berei, sodat daar diepte in die skildery is, en alle ander kleure word dus bo-oor aangewend.   Sy vermy swart, en gebruik graag wit om punte te beklemtoon.  Hettie is vaardig met potlood, olie, akriel, en ook waterverf.

 
Hettie bied kursusse aan in Steynsburg, en gee ook een keer ‘n week klas by die Tehuis vir Bejaardes, en een van die seniors, Dalene Bekker, se skildery was ook op uitstalling.

Post a comment

four × 3 =