Kulinêre fees

 

Kulinêre fees

Posted by VLV in Acqua Tak, News 09 Nov 2017

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 8 November 2017

 

November is die maand wat ons mekaar met stomme verbasing vra waar die jaar dan heen is. 2017 staan einde se kant toe en ons het geen idee hoe ons gekom het waar ons nou is nie. Enersyds is daar soveel hoogtepunte en lekker onthou-tye. Andersyds het daar soveel gebeur wat ons lewens verander het en wat ons dalk eerder wil vergeet. Steeds wys dit ons net hoe vol die jaar was en hoeveel lééf ons in die verbygegane dae en maande ingepak het.

 

Acqua se volgende onthou-tyd was die November-samekoms wat ‘n regte kulinêre fees was. Die dames se kombuisvernuf is opgeskerp. So aan die begin van die besige seisoen met kuiergaste en behoefte aan vinnige, maklike, maar heerlike maaltye, was die vergadering-spyskaart indrukwekkend. Die tweemalige PE SPAR kookkompetisiewenner, Helena Barnard, het ses maklike en vinnige aandetes demonstreer. Helena was ook tweede in die Kitchen Maestro kompetisie.

 

Uie, sampioene, knoffel, botter, spinasie, murgpampoentjie, kaasfrikkadelle, seekos, hoenderfillette, room, basiliekruid, wit wyn, swart peper en nog ‘n paar bestanddele is in verskillende kombinasies gebruik. Dit het in ‘n ommesientjie die heerlikste geure opgetower. Nie net het dit aromaties geruik nie, dit het ook smaaklik gelyk en smullekker geproe.

 

Die Kwa-Kwa’s is na dese lus en rég vir die kombuis.

 

Dit was ook ‘n markvergadering met kraampies wat van joghurtkaas, klere en gebak tot mooigoed verkoop het. Almal kon ‘n lekker voorsprong op die kersinkopielys kry.

 

Nou lê die 2017-pylvak voor en sal ons die tyd moet uitkoop om alles gedoen te kry voor die feesseisoen aanbreek. Acqua het nog ‘n kunsuitstalling, die jaarafsluiting en ons Oues se kersete wat voorlê.

 

Kwakkie het natuurlik ook vergadering bygewoon. Geklee in ‘n sjefsuitrusting het sy ‘n ogie gehou oor die gekook.

 

Post a comment

nineteen − thirteen =