Kroegsnoepies

 

Kroegsnoepies

Posted by VLV in News, Voëlvlei Tak 28 Feb 2018

Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Elize Locke

Datum: 27 Februarie 2018

 

Tydens die maandelikse byeenkoms van Voëlvlei vertel Rika de Villiers meer oor kroegsnoepies, of soos die Spanjaarde dit sal noem:  Tapas. Die happies het oor die jare ‘n gedaanteverwisseling ondergaan waar dit eers net ‘n versnapering in kroeë vir moeë reisigers was, is dit vandag gesofistikeerde, elegante happies in toprestaurante.

 

Die tapa (dit beteken deksel in Spaans) is oorspronklik in kroeë bedien as ‘n klein snytjie brood of vleis wat bo-op jou soetwynglas gepas het sodat dit die vlieë uit jou drankie kon hou of sodat die wind dit nie kan uitwaai nie of sodat jy nie kon ruik hoe sleg die wyn is nie!  Die vleis was ook gewoonlik gerookte ham of chorizo wat baie sout was, sodat die dors dan die reisigers meer kon laat drink.

 

 

 

 

Rika het ‘n Suid-Afrikaanse baadjie vir die tapas aangetrek en het agt verskillende “boeretapas” gemaak waaraan die dames kon proe. Van die tapas wat sy gemaak het was daar “katkoppe” (vleis met ‘n degie om), mieliehappies, baba-aartappels met ‘n vulsel en muffins met ‘n biltongvulsel.

 

Rika toets ook die dames se kennis met vrae soos:  Wat is katkoppe? Vleis met ‘n degie om; Muis? Derm gevul met gemaalde of gekapte lewer; Slag om die Smoel? Melksnysels.

 

 

 

Foto van Rika se tapas

 

 

 

Johlene Muller bespreek belangrike punte om te onthou met jou boedelbeplanning en Mien Naudé gee raad oor hoe om van jou oortollige besittings ontslae te raak wanneer jy moet begin afskaal voor aftrede en verhuis na‘n kleiner blyplek.

 

Ada Gericke bespreek die gesondheidswaarde van eiers wat deur die Britse eiervereniging beskou word as die grootste vitamienpil in ’n natuurlike verpakking.  Hoekom? Want dit bevat verskeie vitamiene en minerale wat vir ’n gesonde dieet nodig is. Daarby bevat een groot eier maar 292,8 kJ of 60 kal, 195 mg cholesterol, 65 mg natrium en 1 g koolhidrate, maar 6 g proteïen van die hoogste gehalte.

 

Sekere kos is meer as ander geneig om allergieë te veroorsaak weens die soort proteïen wat dit bevat. Eiers bevat daardie proteïen, veral die rou eier, en kan dus ’n allergie in sensitiewe mense veroorsaak. Hitte verander die aard van dié proteïen. Dit verklaar hoekom mense wat effens allergies vir eiers is, dit in eierpasta en koeke kan verdra, selfs al bevat dit baie eiers.

 

‘Pampoentert vir Teetyd’ was een van die kompetisies en die lede het hulself oortref met uithaler-bakwerk, maar Ina van Zyl is gekroon as die pampoentert-kampioen.  Ada Gericke se rangskikking van groente en blomme is as wenner in dié kompetisie aangewys.

 

 

 

Kompetisie artikels

Post a comment

14 + 16 =