Krismis-vrolikheid

 

Krismis-vrolikheid

Posted by VLV in Acqua Tak, News 07 Dec 2017

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 6 Desember 2017

 

So aan die einde van die jaar is dit onvermydelik dat ons gedagte gee aan alles wat die afgelope jaar mét ons en róndom ons gebeur het. Ons probeer sin maak van die edelstene wat in die 2017-halssnoer geryg is. Daar is die ellermooiste stene. Juweel-oomblikke wat blink in die lig en ons by blote gedagte aan die gebeurtenis, ‘n warmte in die hart gee. Ai, en dan is daar die donker knoetse. Ongeslyp en vol seermaak punte. Hartseer oomblikke wat ons lewenspad onherroeplik verander het. Die snoer is egter nog nie voltooi nie. Ons kan maar net hoop dat hierdie jaar se oorblywende dae almal skitterblink, onthou-dae sal wees. Dae wat ons met dankbaarheid sal vul.

 

Acqua het die VLV-jaar oudergewoonte met die klank van musiek in die ore, afgesluit. Al die gunsteling Kersliedjies en meer is deur Robert Gillmer gesing. Die hele jaar lank het ons in mekaar se menswees gedeel en dit was net goed en reg om die VLV-jaar in mekaar se geselskap af te sluit. Op die maat van musiek, want die lewe is mos tog ‘n lied! Daar is met groot uitbundigheid gekuier, gelag en geëet. Selfs meer as gewoonlik, want dis Krismis!

 

 

Die tafels was mooi getooi. Blink tafeldoeke, vrolike kersservette, kersboompies, liggies en glinsterende tinsel. Elke gas het ‘n sjokolade-kersvader gekry as funksie-gunsie. PEGC het ‘n smaaklike buffetete uitgesit en gaste kon na hartelus smul aan al die tradisionele geregte. Ook die jaarafsluiting, soos elke ander samekoms van die jaar, was ‘n genotlike bederfaand.

 

      

 

Acqua het ‘n bésige jaar agter die rug. Maar alles wat aangepak is, was geseën met groot sukses.  Lede se harte was so groot soos waenhuise en hulle hande oper dan die Vaaldam se sluise. Daar was die Mula-projek wat met vragte kruideniersware ondersteun is. Lede het ook hand aan breipen geslaan. Meer as ‘n1000 blokkies is gebrei en 50 kombersies kon aan SMILE en CHOC geskenk word. Vader Kersfees het sommer midjaar al ‘n draai gegooi toe ‘n suksesvolle markdag, Krismis in Julie, gehou is. In September kon die mooi bedrag van R3000 aan die droogtehulpfonds geskenk word. Die nederige ou maalvleisbroodjie het ook weer ‘n beurt gekry en daar is in net een dag ‘n hele 803 jaffels gebak.  Pinkie in die lug het 30 Acqua-gaste by die allermooiste teetafel aangesit toe kankerlyers en -oorwinnaars in die tak tydens die Cuppa for CANSA bederf is.  Intussen is daar met lag en lawwigheid verjaarsdag gehou. Toe word daar gekook en toe word daar kuns gepleeg. Die Kuns is ‘n Guns fondsinsameling, ten bate van KANSA Oos-Kaap, het die pragtige bedrag van R14 000 ingesamel. Sakke kos is maand na maand vir die diere in nood ingesamel. Genoeg plastiekdoppies is aangedra om enige skaal te breek. So kon duisende doppies vir herwinning gegee word. Die blote gedagte aan alles wat deur die loop van die jaar vermag is, is genoeg om ‘n mens se asem weg te slaan. Welgedaan Kwa-Kwa’s, welgedaan!

 

  Kwakkie het natuurlik ook gedeel in die vrolikheid.

 

Die Acqua-vriendekring is ‘n blink en kosbare edelsteen in die 2017-halssnoer. Acqua-lede kan hulle VLV-lidmaatskap met trots om die hals dra, want so word elke lid as ‘n voortreflike vrou geÏdentifiseer.

 

Acqua se bede vir jou en joune in hierdie Kersgety is luilekker kuiers saam met geliefdes, ongeëwenaarde rustigheid en volslae tevredenheid met die oomblik waarin jy jou bevind. Geseënde Kersfees.

Post a comment

2 + thirteen =