Kreatief met lap

 

Kreatief met lap

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 30 May 2018

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 29 Mei 2018

 

 

VLV-lede betower deur laslapwerk

 

Met die entoesiasme en kundigheid waarmee Gwen Coetzee, lid van die plaaslike Lieflapper-Laslapgilde, oor laslapwerk kan praat, was dit geen wonder dat lede en gaste tydens die maandvergadering van VLV-Kleinmond op 29 Mei, in verwondering na haar aanbieding geluister het nie. Nou gaan almal met nuwe oë na stukkies oorskietlap kyk, wanneer hulle, in pas met die VLVK-projek vir 2018, “Ruim Op”, die naaldwerkkas opruim.

 

Die nostalgiese herinneringe aan spesiale handgemaakte kledingstukke kan effektief in ‘n laslapdeken of kwilt (dis wanneer deur al die lae gewerk word) bewaar word as die oorskietstukkies aan mekaar vasgewerk of -gestik word. Selfs foto’s kan as inspirasie vir laslapwerk dien. Omring deur ‘n verskeidenheid voorbeelde van haar handwerk, pragtig uitgestal deur die VLV-dames van die Leefstyl-portefeulje, het me Coetzee die gehoor vasgevang gehou met haar verduideliking. Daar is ook ouer artikels in VLV-lede se besit uitgestal, soos Johanna Groenewald, Leefstyl-saamroeper, se erfgoed van haar ma en Hermien van Zyl se oor-oorgrootjie, Hermina de Kock, se laslapdeken wat in 1825 vir haar trousseau gemaak is.

 

Me Maritz het die VLV-lede gekomplimenteer met hul eie naaldwerkvaardighede en gevra dat hulle moet toesien dat dit oorgedra word aan die jonger geslag.

 

 

Bykomend tot ‘n baie leersame middag, het die uitstalling van Anelda Maritz van “The Fishing Cat” se klerereeks wat sy self onder die Alli-etiket ontwerp, ook groot belangstelling uitgelok.

 

 

 

VLV-lede is ook kunstig, soos die inskrywings vir die maandelikse kompetisies duidelik gewys het. Leensi Bruning moes kopkrap om die wenner te bepaal van die inkleurprent vir volwassenes en Ruanda de Clerc om die beste brief van ‘n ouma aan haar kleindogter en die treffendste sonnet oor die herfs, te beoordeel. Van gebak kan niemand vir jarelange VLV-beoordelaar JC van Merwe iets leer nie, en suiwellose sjokoladeplaatkoeke kan maar ook op die maandelikse kompetisielys wees, JC hanteer dit met grasie. Die VLV-gasvroue van die Leefstyl-portefeulje het met kleurryke herfsrangskikkings en ‘n teetafel met keurige gebak verder bygedra om lede en gaste – een selfs uit Australië – te laat besef hoe verrykend en stimulerend is VLV-lidmaatskap.

 

Hierdie VLV-gasvroue was verantwoordelik vir die middag se reëlings: Agter v.l.n.r. Ruanda de Clerc, Anne Meershoek, Dona Brand, Lynette Loubser en Malinda Hugo. Voor sit v.l.n.r. Daphné Loots, Johanna Groenewald (taksaamroeper vir Leefstyl) en Myra Barnard.

 

Gwen Coetzee met ‘n gekwilte behangsel wat sy van ‘n foto af gemaak het.

 

Marita Nolte (regs) help vir Gwen Coetzee om ‘n kwilt op te hou sodat die ander lede beter kan sien.

 

Hermien van Zyl met haar erfstuk van 1825

 

Anelda Maritz (middel) van “The Fishing Cat” saam met Alice van Rooyen (regs) en Marina Cartwright (links agter) ‘n besoeker uit Australië, wat Anelda se klerereeks bewonder het.

 

Cecile Jonkheid (links), voorsitter Kleinmond Tak en Annie Jooste (regs), vise-voorsitter en saamroeper vir Kunste&Handvlyt, saam met Leensi Bruning wat die inkleurprente vir volwassenes beoordeel het.

 

 ‘n Blik op die moeilike taak wat Leensi gehad het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Een van die treffende herfsrangskikkings.

 

 

Post a comment

seventeen − 13 =