Kosdemonstrasie

 

Kosdemonstrasie

Posted by VLV in Herbertsdale Tak, News 18 May 2014

Sirkel: SWD

Tak: Herbertsdale

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Irma Muller

Datum: 17/05/2014

 

Emsie Marx, voorsitter van Herbertsdale, het soos gewoonlik flink gedink en twee vlieë met een klap geslaan:  ‘n kosdemonstrasie gekombineer met ‘n fondsinsameling. 

Gondwana Privaat Natuurreservaat is geleë in die fynbosgebied tussen Mosselbaai en Herbertsdale.  Die bestuurder, Niël  Davison, het die groep gaste van ongeveer 55, met sjarmante gasvryheid ontvang en hulle meer vertel oor die fynbos in die reservaat, en spesiale vermelding gemaak van die Erika-spesie. 

Daarna het JC Nortier, die hoofsjef van die restaurant, ‘n baie interessante kosdemonstrasie gelewer.  Hy het daarin geslaag om die mees teësinnige, wederstrewige tuisteskepper, te inspireer tot groot hoogtes in die kombuis.  Hy het die dames gewys hoe om hul eie pasta te maak:  vir elke 100g koekmeel word een eier bygevoeg.  Die deeg word so bietjie geknie, daarna in kleefplastiek toegedraai en vir ‘n halfuur in die yskas gelos om te rus.  Die pasta word baie dun uitgerol en dan sny jy nou enige vormpie pasta uit.  Hy het spesiaal gewys hoe om ‘n miljoen dollar eiergereg in pasta te maak:  die rou geel van ‘n eier word binne-in ‘n suurroomnessie, tussen twee pasta sirkels, toegemaak.  Dit word in kokende water gedompel en vir 2 minute gekook. ‘n Sous word met botter, biltong, kruie en suurlemoenskil gekook, en oor die pastagereg gegooi!  Dit het heerlik geruik, en ek glo dit sou net so lekker proe!

Daarna is die gaste op ‘n mini-wildrit geneem en die hoogtepunt was die trop leeus wat hulle sommer van naby kon dophou!

 

Die dag is afgesluit met ‘n heerlike ete van hoendersop met vars broodrolletjies, ‘n pastagereg en daarna sjokoladebruintjies met neute, vir nagereg saam met die koffie.

 

Niël Davison, bestuurder van Gondwana Privaat Natuurreservaat.

JC Nortier, sjef van Gondwana, demonstreer die maak van pasta.

Die miljoen dollar eiergereg.

Van die dames op die mini-wildrit, v.l.n.r. Gerda Muller, Ria Muller, Lettie Muller, Mareé Muller, Elize Lock.

Post a comment

twelve − two =