Kongres

 

Kongres

Posted by VLV in SIRKEL NUUS 19 Aug 2014

Sirkel:  Namakwaland

Beriggewer:  Janine Brynard

Datum:  19 – 21 Augustus 2014

 

 

 

Daar is met groot afwagting uitgesien na die hoogtepunt-geleentheid op die VLVK-kalender.  Alreeds sedert Februarie vanjaar, word daar feesgevier om VLVK se 85ste bestaansjaar te vier, met verjaardagpartytjies uit die boonste rakke.  Die kersie is egter op die koek geplaas, letterlik en figuurlik, tydens vanjaar se Kongres.

 

 

 

Sirkels Kalahari en Noordwes-Kaap, het saamgespan om ‘n Kongres soos min aan te bied te Upington.  Sommer met die registrasie alreeds, kon ‘n mens aanvoel, dat hier ‘n bederwery sou wees, soos net die Noord-Kaap se mense dit kan doen.  Aandag is gegee aan fyn detail en Kongres-gangers is werklik op die hande gedra.

 

 

 

Vanjaar se tema is Vroue met Vsie.  Tydens die amptelike opening, het dr Lezel de Jager die storie vertel van Spierwitjie en vleklosie.  Ons is geneig om ons kinders te wil oorbeskerm teen die lewe se aanslagte en probleme, dat dit hulle dikwels verhoed om die lewe ten volle te leef.  Sy maan ons, om Psalm 37 ter harte te neem en liewer te vertrou op die Here, te glo dat Hy vir ons en ons geliefdes alles ten goede sal laat meewerk.

 

 

 

Die openingspreker, Dawie Roodt, het geen bekendstelling nodig gehad nie.  Dit was weereens duidelik, waarom hy so ‘n gewilde aanbieder en spreker is, want almal teenwoordig het letterlik aan sy lippe gehang.  Op baie pittige wyse, het hy die rol van die visionêre vrou in die ekonomie verduidelik, sodat almal dit kon verstaan.  Hy het ook weereens klem gelê daarop, dat dit ontsettend belangrik is, om te sorg dat jou gesin se sake in orde is, met ‘n testament en familie-plan.

 

 

 

Die dankie-persone vanjaar, is me Ronella Rademeyer, VLVK Ere-president en kurator van die Tekstielmuseum in die Jubileumhuis, wat gehuldig is vir haar lewenslange bydrae tot VLVK.  Die ander dankie-persoon is Herman Lensing, die jongste kosredakteur van ‘n vroue-tydskrif, vir sy bydrae tot onthou-kos.

 

 

 

Paul van den Bergh van FNB, het ‘n groete-boodskap namens sy bank gelewer en die vrou daaraan herinner hoe sy ‘n rolmodel vir haar geliefdes kan wees  deur nou alreeds slim finansiële besluite te maak.  ‘n Groot opwinding het geheers toe hy die geborgde I-pad oorhandig het aan die gelukkige wenner.

 

 

 

In haar presidentsrede, het me Erika Lubbe elke VLV-lid uitgedaag en aangemoedig om haar talente, gawes en belangstellings te ontwikkel tot voordeel van haarself en haar gemeenskap.  Die uitdagings wat ons organisasie beleef, is nou feller as ooit.  Ons moet begin dink en doen, wat vooruitgang teweeg kan bring en VLV moet werklik ons passie wees.  As dit nog nooit vantevore só was nie, is dit NOU die tyd vir die vrou – die vrou van VLVK.  Sonder om ons tradisies oorboord te gooi, moet ons kan verander en vernuwe…die lot van die mot is in jou hand!

 

 

 

Johannes Möller, president van Agri SA, het die stand van sake in die landbou in Suid-Afrika uiteengesit.  Alhoewel daar daagliks uitdagings en kwellinge kop uitsteek, soos voedselsekerheid wat bedreig word, verkeerde benadering van landelike ontwikkeling en ‘n chaotiese sosiale ondersteuningstelsel, is daar hoop vir die landbou.  Die rol van die vrou, is nou belangriker as ooit om veral opheffingswerk te doen, ‘n al groter rol te speel in samewerking met georganiseerde landbou en dit bly ons vroue se verantwoordelikheid om te begin ag slaan op veiligheid.  Volgens Johannes, is die VLV die belangrikste organisasie in die burgerlike samelewing.  Hy het ons aangespoor om aan te hou om goed te doen, deur sodoende ons roeping te vervul.

 

 

 

Dr Riana Scheepers was beslis ‘n baie goeie, inspirerende spreker.  Volgens haar het die mensdom nog altyd ‘n behoefte gehad aan visie, visionêre gedagtes.  So min mense het egter visie.  Sy wys daarop dat ‘n vrou met insig ‘n vrou met visie is.  Kyk eers na jouself, sodat jy kan uitkyk, vorentoe kyk.  Die belangrikste is, dat vroue moet leer om te luister.  Die groot probleem bly maar dat ons almal so gewoond is aan praat, organiseer, ens. ens…dat ons nie meer werklik stilraak om te luister nie – na kinders en jongmense, na die sogenaamde “dom” mense, na die natuur, na ánder mense, na jouself, maar veral na God.

 

 

 

Herman Lensing, dankie-persoon van 2014 en Sarie se kosredakteur en skrywer van die boek Voorskoot, het verduidelik hoe goeie kos met visie voorgesit kan word.  Dit kan jou lewe verander.  Hy het veral onthou hoe sy ouma gekook het en dit het só ‘n impak op sy lewe gemaak en beinvloed ook hoe hy vandag kook.  Goeie kos neem tyd en vra liefde.  Kos laat jou die mooi herinneringe onthou en onthoukos is die kos vir die toekoms.

 

 

 

Die redakteur van Lééf, Christine Feirerra, vra die vraag:  Waar is JY in jou lewens-prentjie?  Hoe maak jy tyd vir JOU???  ‘n Vrou met visie se oog is gerig op die ewige.  Ons identiteit in God, maak ons mooi soos ‘n beminde, maar vroue is só negatief oor hulself.  God vra egter dat ons net op Hom en Sy liefde vir ons sal fokus, sodat ons vrede en verandering kan ervaar.  Ons hoef nie te ly onder depressie nie en ons hoef nie minderwaardig te dink en te voel oor onsself nie.  Ons is werklik asemrowend mooi vir ons God en Hy weet die beste vir my, want Hy het my gemaak.

 

 

 

Dr Carl Albrecht, hoof van Kankernavorsing by KANSA, het gewys op die voorkoming van kanker, veral in elkeen van ons se kombuise.  Dit begin so eenvoudig soos, was jou hande!  Met ‘n breedvoerige bespreking oor wat Kanker is, die voorkoming daarvan, die oorsake daarvan, die mites oor die gevare van die mikrogolf, die werklike gevare van die voedsel in jou yskas, kraanwater en chemikalieë, asook ons dieet, kan elkeen nadese ‘n ingeligte, goeie keuse maak ten bate van goeie  gesondheid.

 

 

 

Die dinee was ‘n groot hoogtepunt, met aandag wat gegee is aan fyn detail.  Die kos was uit die boonste rakke en die kunstenaars,  Franz Geldenhuys en Nolene Grobler het hemelse musiek opgetower.

 

 

 

En dan, het die opwinding van maande se beplan en oefen uiteindelik uiting gekry op die verhoog, toe elke Sirkel die kans gekry het om ‘n era in die bestaan van VLVK te kon uitbeeld.  Namakwaland het weer die voorreg gehad om die Depressiewe Dertigerjare voor te stel.  Met ‘n oulike toneelstukkie, geskryf deur Fesia Engelbrecht, het elkeen van die afgevaardigdes en waarnemers “sy” of haar rol gestand gedoen en probeer om die humor in die Namakwaland in die depressiejare voor te stel.  Die gehoor het dit beslis geniet en die “akteurs” het regtig baie goed gelyk in hul kostuums.

 

 

 

Met al hierdie inspirasie, hoop en bemoediging, kan elke VLV-vrou vandag ‘n vrou met visie wees.  Saam kan ons ‘n verskil maak aan onsself, ons geliefdes en ons gemeenskappe.

 

 

 

Depressie - Namakwaland

Depressie Namakwaland:

V.l.n.r.:  Sophie Malan (Vredendal), Janine Brynard, Anna en Tilla Nel (Hantam), Alida Vlok (Loeriesfontein), Arina van Lill (Klawer), Elzabé Augustyn (Calvinia), Heidi van Niekerk (Nieuwoudtville), Joretha de Waal (Lutzville) en Rita Eitner (Vredendal – saamroeper)

Post a comment

three × four =