Klimaatsverandering word bespreek

 

Klimaatsverandering word bespreek

Posted by VLV in Kuilsrivier Tak, News 18 Jun 2019

Sirkel:  Tygerberg

Tak:  Kuilsrivier

Portefeulje:  Landbou en Tuinbou

Beriggewer:  Elmine Möller

Datum:  5 Junie 2019

 

Klimaatsverandering:

 

Mev Marlene Lotz, Landbou Sameroeper van Kuilsrivier, bedank Mnr. Andre Roux na sy baie interessante praatjie oor klimaatsverandering.

 

Tydens die Landbouvergadering van VLV Kuilsrivier, het Mnr. Andre Roux as spreker opgetree.  Hy was voorheen verbonde aan die Elsenburg Landboukollege op Stellenbosch. Hy is tans afgetree, maar bly steeds op hoogte van die jongste verwikkelinge.  Hy het gedurende Maart 2019 ‘n kongres in Portugal bygewoon, oor die invloed van klimaatsverandering op die wynbedryf.

Aardverwarming is ‘n realiteit.  Voor 1800 is alles met die hand gemaak en gasse is op ‘n natuurlike manier deur die natuur geabsorbeer.  Met die industriële revolusie word daar al hoe meer van masjienerie gebruik gemaak en al hoe meer CO², Metaan en Stikstof word in die atmosfeer vrygestel.  Gasse kan nie meer natuurlik ontsnap nie en so word ‘n kweekhuiseffek veroorsaak.  CO², metaangas en CFC gasse het die grootste effek.  Temperature het die laaste 50 jaar drasties toegeneem.  2016 en 2017 was die warmste jare in die geskiedenis.  Daar word voorspel dat die temperatuur met 1 – 1.5ºC gaan toeneem teen 2050 – 2060.  Hoër minimum en maksimum temperature, hoër verdamping en hoër intensiteit reënval word voorspel.  Daarmee saam verminder die algehele reënvalsyfers drasties.  Weerpatrone verskil ook van die normale – hoër intensiteit reënval, vloede, haelstorms, sneeuval, intense droogtes en meer warmer en minder kouer periodes kan voorkom.  Die huidige droogte was die ergste in 300 jaar.  Dit is ‘n tendens wat al meer kan voorkom.  Dit word bereken dat die droogte die landbou reeds R5.8 biljoen kos.  Landbouproduksie is met 18% af en waterverbruik vir besproeiing het met 11% toegeneem.  Beraamde werksverliese van ongeveer 30 000 word bereken.

 

Dit het ‘n groot impak op die boere se finansiële vermoë.  Hoë temperature beïnvloed die rakleeftyd van vrugte en groente.  Vrugte is ook kleiner en kan gevolglik nie uitgevoer word nie, wat ‘n laer oesinkomste meebring.  Boere moet die keuse maak om op te hou besproei, sodoende gaan die wingerd / vrugtebome dood en moet dan later teen ‘n baie hoër koste vervang word.  Produksie gaan daardeur verlore.  A.g.v. die droogte, kan daar ook nie genoeg nuwe plantmateriaal geproduseer word om die voriges te vervang nie.  Daar is ook nie water om na-oes besproeiing te doen nie en hierdeur word die volgende jare se oeste beïnvloed.

 

Die besigheidsektor word ook geweldig beïnvloed.  Almal sal moet leer om hulle leefwyse permanent aan te pas.

 

“Only once you have carried your own water, you will learn the value of every drop”.

 

Die reënval het vanaf 2015 al hoe meer verswak en sodoende die hidrologiese siklus beïnvloed:  reën – syfer in die grond weg – vul die ondergrondse water aan.

 

 

Die damvlakke daal ook jaarliks.  Dit kan 2 – 3 jaar na die droogte neem vir die damme om weer tot ‘n aanvaarbare vlak te herstel.    Tydens die huidige droogte het die inwoners van die Weskaap voldoende saamgewerk om waterverbruik te verminder om sodoende dag zero af te weer.   Ongelukkig is mense geneig om water te mors sodra dit beter gaan, in plaas daarvan om hul lewenswyse permanent te verander.  Stort net vir 2 – 3 minute en gebruik grys water vir die toilette.  Bespaar te alle tye.  Met goeie bestuur het Stad Kaapstad slegs 4.5% meer water gebruik in ‘n periode van 10 jaar.

 

Die aarde is al 4.6 biljoen jaar oud en die mens het in ‘n kort periode alreeds 50% van die aarde se woude vernietig.  Dit is nie volhoubaar nie!

 

Hierdie interessante praatjie het ook betrekking op die huidige besprekingspunte van die WBPV.

 

 

Post a comment