Kleinmond vier stigting van VLVK

 

Kleinmond vier stigting van VLVK

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 30 Oct 2019

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Vlvk-Verjaarsdagviering

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 29 Oktober 2019

 

 Oktober is nie net in die woorde van die digter “Die mooiste, mooiste maand” nie, dis ook op die VLVK-kalender ‘n belangrike en bedrywige maand. En beslis nie minder só vir VLV-Kleinmond nie.

 

Antiek-sjiek detail op die tafels

 

Eerstens het die tak met die Oktobermaandvergadering die stigting van VLVK op 15 Oktober 1929 met ‘n vrolike sjampanje-en-sap partytjie gevier. Met van die lede spoggerig geklee uit die modeboeke van 1929, antiek-sjiek tafelversierings en ‘n treffende verhoogopstelling, was daar geen onduidelikheid dat die gedagtes maar kon terugloop oor 90 jaar se voetspore nie.

 

Daphné Loots by haar treffende opstelling op die verhoog.

 

 

 

 

Marita Grobler aan die woord.

 

 

 

Marita Grobler het die opening waargeneem en presies dit gedoen. Sy het aan die hand van Jeremia 1:5 daarop gewys hoe die Here ook ‘n organisasie soos VLVK kan gebruik in Sy Meesterplan en hoe die VLV se persoonlikheid gevorm is deur die voetspore wat vorige presidentes gelaat het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tweedens word Wêreldvoedseldag ook in Oktober gevier en die lede en gaste was bevoorreg om na die gerekende landboukundige, Gerrie Reitsema te luister. Hy werk reeds 31 jaar vir die Nederlandse saadmaatskappy Bakker Broers, wat ook vanjaar 90 jaar oud is en hulle toespits op groentesaadontwikkeling en –verspreiding, veral in Suid- en Oos-Afrika. Die groot uitdaging vir die landboubedryf vandag is om die wêreld met sy stygende populasiegroei te voed sonder om die planeet te vernietig. Met behulp van ‘n power point-aanbieding het hy die syfers, probleme en moontlike oplossings rondom bevolkingsaanwas, verstedeliking, noodwendige dieëtveranderings en volhoubaarheid van voedselproduksie aangedui. Elkeen teenwoordig het drie pakkies saad ontvang, want met ‘n eie agterplaastuintjie kan elkeen van ons help voorsien in die toenemende vraag na kos. Beslis pitkos om oor ná te dink.

 

 

Gasspreker Gerrie Reitsma saam met Alice van Rooyen(middel) wat hom bekendgestel het en Cecile Jonkheid (takvoorsitter)

 

 

 

 

 

 

 

 

Henk Badenhorst van Wildebraam Estates by sy produkte.

 

In aansluiting hierby het Henk Badenhorst van die Wildebraam Estate op Swellendam die lede bekendgestel aan hierdie familiebesigheid se verskeidenheid bessieprodukte. Ná die vergadering kon die lede na hartelus proe en koop van die heerlike konfyte, likeurs, ens.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Derdens was dit Borskankermaand en vir elkeen is daar ‘n pienk lintjie aangesteek.

 

Frieda Maree met haar 1929-look.

 

 

Eunice de Villiers het die lede begelei met die sing van die Lekkersing VLV-lied en ‘n vasvra aangebied waarin sy ou trefferliedjies soos “Silver threads amongst the gold” gespeel het. Dit het baie herinnerings teruggebring oor vroeëre dae se VLV-optredes.

 

 

Susan Marais (links) en Cecile Jonkheid, voorsitter drink ‘n heildronk op VLV.

 

Sirkelpresident Rienie Ludick het takbesoek kom doen en die sirkel se gelukwensing oorgedra aan Kleinmondtak wat ook in dié maand 34 jaar gevier het. Daarná het die sjampanjeproppe geklap en kon Susan Marais, een van die tak se oudste lede, ‘n heildronk instel op VLVK.

 

Sirkelpresident Rienie Ludick (middel) saam met Hermien van Zyl, taksekretaris,  (links) en Cecile Jonkheid, takvoorsitter.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ria Coetzee sny een van die tafels se dekadente sjokoladekoek.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die gelukkige wenner van die verjaarsdagkoek wat uitgeloot is, was Mercia du Toit, hier regs saam met voorsitter Cecile Jonkheid.

 

 

Leave a Reply