Kleinmond bewaar ons natuur en kultuur

 

Kleinmond bewaar ons natuur en kultuur

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 27 Oct 2018

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeuljes: Landbou&Tuinbou, Kunste&Handvlyt, Opvoeding&Kultuur

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 31 Julie 2018

 

‘n Baie interessante en verrykende kenniservaring het op die lede en gaste gewag wat op 31 Julie 2018 die VLV-maandvergadering bygewoon het. Dis aangebied deur die portefeuljes Landbou&Tuinbou, Opvoeding&Kultuur en Kunste&Handvlyt en die groepies se lede het die verskillende moontlikhede wat dit gebied het, netjies ineengevleg.

 

Natuurbewaring is ‘n onderafdeling van Landbou&Tuinbou en dáár het die fokus geval op die die Voël van die Jaar, die Swarttobie/Black Oystercatcher. Hierdie mediumgrootte swart voël met die helder oranje bek, oë en pote kom ook hier langs Kleinmond se kuslyn voor. Etlike jare gelede het Richard Starke en sy vrou Sara van Bettysbaai die lewensiklus van ‘n broeipaar swarttobies op kamera vasgelê en ‘n kosbare dokumentêr wat hulle “Sara’s Oystercatchers – A Love Story” genoem het, daaruit saamgestel. Dit het hulle met die VLV-lede kom deel. Op die groot skerm kon almal sien hoe lyk die 2 – 3 gespikkelde eiertjies wat sommer daar op die hoogwatermerk in ‘n sandholtetjie gelê word, en verstaan hoekom is hulle voortbestaan so bedreig deur voertuie wat op die strand ry en nuuskierige mense. Ongelukkig val die swarttobie se broeityd oor die somermaande wanneer daar terselfdertyd ‘n toeloop van mense op die strande is. Sara het ook ‘n paar swarttobiekuikens met die hand groot gemaak wat die neem van die foto’s baie besonders gemaak het. Hulle vernaamste voedselbron word op rotse aangetref en ‘n mens sien hulle in die getysone waar hulle besig is om mossels, klipmossels en wurms met hulle lang, skerp snawels af te haal en oop te breek. Hulle verbintenis met ‘n maat is lewenslank.

 

Gerta van Heerden van die familiebesigheid, Kleinmond Laser Cutting(082 450 0064), het borsspeldjies met swarttobies op saam met van hulle ander produkte uitgestal en as deel van die jaarlikse marktafel, te koop aangebied. Lede en gaste was gefassineer deur die 3D-houtmodelle wat jy self kan bou, name en aanhalings, legkaarte en klein prentjies wat te sien was. Die produkte van hierdie tegniek, waar met ‘n warm laserstraal deur hout en sekere soorte plastiek gesny kan word, bied vir die skeppende VLV-lid van Kunste&Handvlyt of enige persoon, baie moontlikhede.

 

Die treffende voordrag van “Die Stem van Suid-Afrika” deur Susan Marais in haar mooi Overbergse bry het die gehoor tjoepstil gehad met ‘n knop in die keel. Sy het ál vier strofes van hierdie onverganklike gedig wat 100 jaar gelede uit die pen van CJ Langenhoven verskyn het, voorgedra sodat VLV-Kleinmond dit as deel van Opvoeding&Kultuur kon herdenk. ‘n Geraamde afskrif van die gedig, in die besit van Alet Fourie, het groot belangstelling uitgelok.

 

 Annie Jooste (Kunste&Handvlyt), Louise Bruwer(Opvoeding&Kultuur) en Hermien van Zyl (Landbou&Tuinbou) was die saamroepers vir die vergadering.

 

Dekor op die teetafel om die tema tuis te bring

 

 

 

 

 

 

 

 

Swarttobies se nessie

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kuiken soek kos

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Swarttobie familiegroep

 

 

Swarttobie besig om die klipmossel stukkend te kap

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Richard Starke (spreker) met die geskenkpakkie wat die VLV aan hom oorhandig het.

 

 

 

 

 

 

 

 VLV-marktafel met v.l.n.r. Alet Fourie, Ria Coetzee (tesourier) en Harriet Visser

 

 

Alet Fourie(links) en Susan Marais by die geraamde afskrif van “Die Stem van Suid-Afrika”.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gerta van Heerden(links) help vir Chrissie Kelly om artikels van laserdruk te koop.

 

Post a comment

three + 1 =