Kleinmond beloon getrouheid, prestasie en diens

 

Kleinmond beloon getrouheid, prestasie en diens

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 29 Nov 2017

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 28 November 2017

 

 

 

VLV-Kleinmond het op 28 November ‘n baie suksesvolle jaar afgesluit met die gebruiklike prysuitdeling wat onder vise-voorsitter Annie Jooste se hand ‘n vars aanslag getoon het. Daar is weggedoen met die trofeë en in elke kategorie het die pryswenners plante ontvang, wisselend in grootte afhangende van die prestasie. Slegs Alice van Rooyen, die algehele wenner van 2017 se kompetisies het bykomend ‘n trofee ontvang. Ook die lede wat 100% teenwoordig was, het elkeen ‘n geskenk ontvang.

 

Die verskeidenheid plante wat aan pryswenners oorhandig is

 

 

Die pryswenners is voor v.l.n.r. Cecile Jonkheid, Hermien van Zyl(algeheel 2de), Chrissie Kelly, Dona Brand,Louise Bruwer(algeheel 3de), Alice van Rooyen(algehele wenner), Annie Jooste, Ria Coetzee en Marie Thomas. In die middel staan Mirielle Nel, Marita Grobler en Brenda Neethling en heel agter staan Johanna Groenewald en Daphne Loots.

 

 

Hierdie lede was 100% teenwoordig: Cecile Jonkheid, Essie groenewald, Marietjie Janse van Vuuren, Alice van Rooyen, Chrissie Kelly, Brenda Neethling, Johanna Groenewald, Marita Grobler en Myra Barnard.

 

VLV is egter mèèr as net kompetisies. Louise Bruwer het aan die hand van Rom.12:9 geestelike weerbaarheidswenke gegee om die feestyd vir onsself makliker te maak.

 

Prentjies van kosmosblomme is vir elke lid uitgedeel met die gedagte “Om te glimlag, kos mos niks”. So maak ons die lewe vir ander mooier, ook vir die besoekers aan Kleinmond.

 

Aansluitend daarby was die pragtige klavierspel van Debbie Biermann, plaaslike musiekonderwyseres, lafenis vir die siel. By die mini-kersmark kon lede heerlike tuisgemaakte produkte koop, en die blikke begin volmaak met beskuit, koekies en vrugtekoek vir die vakansieseisoen.

 

 

Oorgetrekte blikkies, kaartjies en vrugtekoek op die marktafel.

 

‘n Hoogtepunt vir ‘n paar VLV-veterane was die aansteek van hulle jare-diensknopies deur die voorsitter, Cecile Jonkheid. Lynette Loubser ontvang haar 55 jaar-diensknopie en Brenda Neethling haar een vir 25 jaar. Alice van Rooyen, Peggy van Tonder, Sylvia Coetzee en Hendriette Cruywagen is elkeen reeds 15 jaar ‘n VLV-lid, terwyl Marietta Serdyn en Freda Maree elkeen al 10 jaar aan die VLV behoort. Cecile Coetzee ontvang haar 5 jaar-diensknopie.

 

 

Die lede wat hulle diensknopies ontvang het, is v.l.n.r. Peggy van Tonder(15 jaar), Lynette Loubser(55 jaar), Alice van Rooyen(15 jaar), Cecile Coetzee(5 jaar), Hendriette Cruywagen en Sylvia Coetzee(15 jaar elk) en Brenda Neethling (25jaar). Frieda Maree en Mariëtta Serdyn(10 jaar elk) was ongelukkig afwesig.

 

 

 

 

 

 

Voorsitter Cecile Jonkheid het kortliks ‘n oorsig gegee van haar eerste jaar in die stoel en die lede, bestuur, beoordelaars en klankman bedank vir hulle ondersteuning en samewerking. Die tak kan terugkyk op verskillende maniere van betrokkenheid in die gemeenskap(viering van Melktertdag, brei van mussies, betrokkenheid by die Jeugsentrum, ens) interessante sprekers, ‘n uitstappie, die droogtehulp-insameling en goeie skakeling met die wyer VLV-kring. Daar was die verlies van lede deur verhuising soos Christine Lambrechts, Ria Nel en Martie Swart en deur die dood soos wyle Rika Raats, maar oor die algemeen was  2017 ‘n baie goeie jaar vir VLV-Kleinmond.

 

 

 

 

 

 

 

Elizette Bosman se treffende verhoograngskikking.

 

 

 

 

In pas met die VLVK-tema vir die nuwe termyn, “Môre begin Vandag”, is daar reeds opwindende planne in die pyplyn vir 2018 en die voorsitter het die gordyn so effens gelig: ‘n modeparade met ‘n wintervoorskou en ‘n bekende sanger as gaskunstenaar, ‘n “Ruim Op”-projek en interessante vergaderings met baie pitkos en ’n groter verskeidenheid kompetisies. Sy nooi potensiële lede uit om aan te sluit by die VLV-vriendskapskring en hul vaardighede en talente sò uit te bou.

 

 

Lynette Loubser is ‘n boervrou en voormalige voorsitter van die VLV-tak van Riebeek-Kasteel wat op Kleinmond kom aftree het en hier haar lidmaatskap voortgesit het.

 

Brenda Neethling is ‘n afgetrede onderwyseres van Moorreesburg wat steeds voluit by VLV betrokke is.

 

 

 

Post a comment

7 + 10 =