Klein Brakrivier ondersteun Kansa en ander herwinningsprojekte

 

Klein Brakrivier ondersteun Kansa en ander herwinningsprojekte

Posted by VLV in Klein Brakrivier Tak, News 30 May 2018

Sirkel: SWD

Tak: Klein Brakrivier

Portefeulje: Opvoeding

Beriggewer: Lydie Terblanche

Datum Van Vergadering: 29 Mei 2018

 

Gemeenskap- en Omgeeprojekte

 

Leatitia Steyn – Saamroeper van Opvoeding- en haar span het weer Dinsdag 29 Mei gesorg vir ʼn propvol program vir Klein-Brakrivier VLV-tak.

 

 

Flink en gewillige dames het soos gewoonlik hulle tyd en aandag met liefde gegee aan hulle gemeenskap- en omgeeprojekte. Daar is gesellig geknip, gestik en gestop aan mastektomie sakkies en -kussinkies vir Kansa. ʼn Reuse hoeveelheid artikels is reeds gemaak en versamel vir hierdie projek, dit sal Juliemaand aan Kansa oorhandig word.

 

Pêrel Kruger het meer vertel van die plastiekproppe- en broodknippies herwinningsprojekte om rolstoele aan gestremde persone te skenk. Tot dusver is daar 14 rolstoele al geskenk aan behoeftige gestremdes van onder meer Kansa, Watsons ouetehuis en so ver as Tsitsikama, Joubertina en Van Wyksdorp. Verskeie skole en biblioteke in ons omgewing is ook reeds by hierdie projek betrokke. Items kan ingeweeg word by Interwaste en dit word verwerk deur Forever Planks, Extra Wood en Extra Caps. Hou in gedagte dat ʼn vol swartsak op ongeveer 12 kg inweeg en daar is byvoorbeeld 50 kg broodknippies nodig vir een rolstoel, so almal sal moet inspring!

 

Hierdie projek word deur die tak ondersteun omdat elke klein poging ʼn bydrae lewer om die wêreld om ons op te ruim. Besoedeling is, soos ons almal weet, ʼn groot probleem. Ons lees en hoor al hoe meer van die plastiek-probleem. Pêrel het met haar navorsing weer almal tot nadenke gedwing oor die +- 300 miljoen ton plastiek wat jaarliks vervaardig word. Voeg hier by dat min of meer die helfte van hierdie vervaardigde items vir eenmalige gebruik is. Meer skrikwekkend is dat bykans 91% hiervan nie herwin word nie dan die onstellende feit dat 8 miljoen + ton plastiek wêreldwyd in die see eindig en ons seevoëls en -diere daarvan uitsterf. Niemand mag ongeërg oor hierdie probleem staan nie.

 

26 Junie doen die tak ʼn ‘Ken-Mekaar-Uitstappie’ en die volgende vergadering is op 31 Julie. Gedurende die Julie byeenkoms gaan Lynde Minne van Hartenbos Interwaste meer inligting gee oor hulle projek om sonder enige wins, plastiek afval te verwerk en herwin. Diegene wat belangstel en graag die geleentheid wil bywoon, kontak gerus die Klein-Brakrivier VLV-tak, Openbare Sake Sameroeper – Elrina van Zyl (0723639793).

 

VLV dames knip, stik en stop vir Kansa

 

 

Nog VLV dames vlytig aan die werk

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Pêrel Kruger vertel meer oor die proppie- en broodknippie herwinningsprojekte.

 

 

 

Post a comment

four × 1 =