Katastrofe met die bruidstabberd – 4de plek by Kongres

 

Katastrofe met die bruidstabberd – 4de plek by Kongres

Posted by VLV in News, VLVK-nuus 04 Oct 2011

Uit die pen van Johanna Rheeder. . .

 

My niggie, die spreekwoordelike oujongnooi, (haar blomtyd was lankal verby) sê tydens ons lang telefoongesprek: “Ek wil die naweek bietjie kom kuier.” “Dit sal baie lekker wees, jy was lanklaas hier.” Toe vra sy so ewe, asof sy dit al òòit gedoen het, “Kan ek ‘n vriend saambring?”  

 

Vrydagaand moes ek hoor dat die ‘kys’ al meer as ‘n  jaar aankom. Hulle wil komende Oktober trou. Jy kon my met ‘n veer omtik!

 

Albei se ouers is al oorlede en omdat sy nie meer jonk is nie,  sien sy nie kans vir ons groot uitgebreide familie nie. Sy wil darem ook nie voor ʼn prokureur trou nie. Hoe nou? saam-saam beplan ons. My pa sal haar die kapel inbring en net my gesin en sy suster-hulle sal dit bywoon. Sy sal sommer ‘n pakkie of rokkie aantrek.

 

Knap voor D-dag,  geselsende oor die telefoon,  kom ek agter, sy twyfel oor die ‘pakkie.’  ‘n Mens trou mos net een keer!  “Kom ons gaan kyk Saterdag rokke,” sê ek. Net as agtergrond:  haar ma was ‘n opgeleide ‘dressmaker.’  Van een winkel na die ander . . . “Die goed is so vol rafels en toiings, netnou staan ek daar met oop nate!  Wie trou dan nou so . . .  kaal? My swembroek maak meer toe. (Onthou,  sy was al amper veertig.) Ag-nee jong, ek’s nie prinses Di nie, die goed blink te erg.” Dit het ‘n baie la-a-ang dag geword.

 

Na ure se soek, aanpas, seer voete, ‘n  paar keer se verdwaal, uiteindelik  –  ‘n  pragtige naaswit,  A-lynrok van sagte sjiffon. Met haar pragtige figuur pas dit perfek. Ek weet,  as my vriendin met haar hare en grimering klaar is, sal sy ‘n mooi bruid wees. 

 

Die troudag breek aan, ‘n pragtige lentedag. Ontbyt, bad, tee, met haar hare en grimering gedoen, is dit uiteindelik tyd vir die rok! Sy draai nog so vol verwondering voor die lang spieël rond,  toe tref dit ons almal tegelyk – haar naels! Die skel pienk pas net nie by ‘n bruid nie. Nie regtig ‘n probleem nie, daar is ʼn oplossing, verwyderaar mét ʼn sponsie binne-in die houertjie.  Een na die ander word vingers daarin rondgedraai. Die lak is hardnekkig. Nog net twee vingers, die rooskleurige lak staan reg. Die horlosie sê daar is nog ‘n goeie vyftien minute tyd.

 

Toe gebeur dit . . .  die houertjie val uit die gewillige hande.  ‘n Yslike pienk vlek groei in haar skoot tussen die sagte plooie van die romp. Wat nou? Hoe kry ‘n mens dit uit? Dis sulke fyn materiaal? Ek moes maar ‘n  pakkie gekoop het!  Tipies vrou praat ons almal tegelyk en deurmekaar.

 

Na vele geredekawel besluit ons:  die chiffon romp-gedeelte sal gewas moet word. Vinnig uittrek,  betroubare handewasseep is ingespan. Almal hou asems op! Eers liggies druk-druk,  dan bietjies-bietjies vrywe,  meer vryf,  spoel . . . “Ek’s seker dis ligter.”  “Dis al halfvier.”  “Probeer weer.” Ek bel:  “Ons is nou-nou daar, hier’s ‘n klein probleempie.” 

 

Nog seep, warmer water, harder vryf, spoel, nog eens spoel. Soos brommers drom ons almal saam, oë groot, vol afwagting . . . “Ek sien niks.” fluister Dolla en hardloop uit, son toe.  Almal agterna. “Dankie tog!” Klink die sugte op.

 

‘n  Haardroër, hoogste spoed, warmste temperatuur, asook ‘n tweede word ingespan. Vyf-en-twintig minute laat, maar die bruid is stralend, sagte chiffon koel en klam teen haar hande wat die lang string orgideë vashou.  

Post a comment

three + eight =