KANSA funksie

 

KANSA funksie

Posted by VLV in Murraysburg Tak 27 Sep 2014

Sirkel:  Noord-Karoo

Tak:  Murraysburg

Portefeulje:  Gesondheid en Openbare Sake

Beriggewer:  Mette Kromhout

Datum:  27 September 2014

 

 

Murraysburg – KANSA se funksie, die Kerkjaar uitgebeeld met musiek, voordrag en blomme, aangebied op 27 September in die NG-kerk was veel meer as ‘n fondsinsamelingsfunksie. Dit was ‘n belewenis.

 

 

CANSA1

 

 

Morné Serfontein, orrelis van Beaufort-Wes, is ‘n meester van sy vak en hy  laat  Murraysburg se besondere orrel tot sy reg kom.  Sy keuse van musiek om die verskillende momente van die kerkjaar uit te beeld, het sy gehoor geboei omdat selfs diegene, wat moontlik nie so ‘n erg aan orrelmusiek het nie, ‘n groot deel van die musiek kon herken en meegevoer is deur sy meesterlike spel.

 

 

CANSA3

 

 

Bekwaam en rustig het Dalene Swanepoel en Biffie de Vos, ook van Beaufort-Wes, tydens die orrelspel elk vier rangskikkings aansluitend by die moment van die kerkjaar, wat deur die musiek verklank is, voltooi. Hulle treffende rangskikkings, waarvoor hoofsaaklik optelplantmateriaal gebruik is, was ‘n bewys van besondere kreatiwiteit en sensitiwiteit vir die tema.  Enkele bloedrooi Barberton madeliefies, rooi  Anthuriums en wit St. Josefslelies het vir dramatiese aksente gesorg.

 

 

Marius de Vries, streeksorganiseerder van KANSA in Beaufort-Wes, se gepaste voorlesings met die musiek in die agtergrond, het die gewyde stemming verhoog en saam het musiek, voordrag en blomme die gehoor diep aangeraak.

 

 

Theresa Troskie, voorsitter van die plaaslike VLV-tak, wat saam met De Vries die nodige reëlings getref het, het met haar VLV-helpers na die tyd ‘n heerlike ligte ete in die kerksaal aangebied.  Die kerksaal was treffend in wit en pienk getooi en veral  vir die inwoners van Huis Spitskop was die keurige ete ‘n hoogtepunt.  Troskie en die VLV het met hierdie funksie beslis ‘n verskil gemaak.

 

 

Murraysburg is groot dank aan die aanbieders van die program verskuldig en besef hoeveel tyd en moeite dit geverg het om so ‘n spesiale geleentheid moontlik te maak.

 

Post a comment

three × four =