Kaas, Wyn, Afrikaans en Mandela

 

Kaas, Wyn, Afrikaans en Mandela

Posted by VLV in News, Velddrif Tak 05 Oct 2009

Op Donderdag, 17 September, het Velddrif se VLV tak hul jaarlikse uitstappie gehad. Die afwagting was groot met die wegtrekslag uit Velddrif – elkeen met ‘n ontbytpakkie (geborg deur die tak) bestaande uit ‘n appel, vrugtesappie, muffin en joghurt om die dag gesond te begin en kragte op te bou vir al die plesier wat voorgelê het.

 

 

Eerste  op die program was ‘n stop by Fairview Wynlandgoed. Die kelder maak die heerlikste wyne en ‘n verskeidenheid van kase, waaraan algar alte lekker geproe het. Die kelder het ook fluks sake gedoen, want ‘n mens kan mos darem nie leë hande huis toe gaan, as alles wat jy geproe het smaak na meer nie!

 

 

Volgende het ons by die Taalmonument aangedoen, waar ’n vriendelike toergids die simboliek van die Taalmonument aan ons verduidelik het. Die monument se baie trappe het veral die ouer garde so ‘n bietjie “gepootjie”, maar aan waagmoed het dit niemand ontbreek nie. Almal het piekniekmandjies saamgeneem en die lowergroen gras, was die ideale plek om ‘n kossie te geniet.

 

 

So in die ry, oppad na die volgende stop, het die dames ‘n aarbeiwinkel gewaar en daar moes net gestop word om lekker vars aarbeie en aarbeistroop te koop. Vol gelaai met die suikersoet vruggies, het die geduldige busbestuurder weer pad gevat.

 

 

Die Drakenstein Korrektiewe Sentrum, voorheen bekend as die Victor Verster Gevangenis, was ons eindbestemming. Die gevangenis het bekendheid verwerf omdat dit is waar Madiba die laaste 3 van sy 27 jaar gevangenskap deurgebring het. Die ruim huis, waar mnr. Mandela aangehou is, is redelik afgesonderd en vêr van die gevangenis af. Die huis, wat sedert 11 Februarie 1990 leeg staan,  beskik oor ‘n swembad, oefenkamer en weelderige tuin.  Mnr. Mandela het sy eie private sjef gehad tydens die 3 jaar wat hy daar woonagtig was.

 

 

Die gids het staaltjies vertel van mnr. Mandela se tyd in die huis en hoe verbaas hy was oor die mikrogolfoond, wat vir hom soos ‘n tweede televisie gelyk het. Die gaatjies vir die loer-en meeluistersapparate is stille getuienis van die  feit dat die inwoner steeds gevangene was. Hopelik is die apparate werklik ontkoppel en het niemand die dames dopgehou wat braaf genoeg was om op Madiba se bed rond te rol nie! Soos Mnr. Mandela soveel jare gelede, het die VLV lede ook deur die “Freedom Gate” gestap om weer te kon pad vat na huis en haard.

Busvrag uit Velddrif

Angeli de Kock en Hanneke du Toit

Post a comment

five + 9 =