Jan Taks besoek Kuruman

 

Jan Taks besoek Kuruman

Posted by VLV in Kuruman Tak, News 18 Aug 2016

 

Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Hettie du Plessis

Datum: 17 Augustus 2016

 

Openbare Sake verwelkom ryk en arm

 

VLV Kuruman se vergadering op Woensdag 17 Augustus 2016 is aangebied deur die Openbare Sake-groep. Met die tema, “Inkomstebelasting”, is dames gevra om ryk of arm met hul kleredrag uit te beeld.

 

kuru-dsc_0110

Die Openbare Sake-groep, vlnr: Marelie Keuler, Petro Spangenberg, Liza Burger (Sameroeper), Theresa Potgieter, Bessie Kriek en Hettie du Plessis.

 

VLV Kuruman het vir Elsa Strating as Dankie Persoon genomineer en ‘n sertifikaat van waardering aan haar oorhandig. Sy rig Laerskool Seodin se skoolkoor af wat deurgedring het na die finaal van die televisieprogram, Sing in Harmonie, wat op 24 September 2016 opgeneem sal word. VLV Kuruman sien raak en waardeer dat sy onbaatsugtig betrokke is by die afrigting van die koor en is dankbaar vir die manier waarop sy kinders se lewens verander en hul harte aanraak met haar liefde vir hulle, sowel as vir musiek. Alle sterkte vir die finaal.

 

kuru-dsc_0030

Elsa Strating ontvang haar sertifikaat van Liza Burger.

 

Senior dansers van die dansskool, iDANCE by Annelie, onder leiding van Annelie Fourie, het die dames met ‘n moderne dans, sowel as ‘n hip hop nommertjie vermaak.

 

kuru-dsc_0041

Dansers van iDANCE by Annelie, agter: Demi Mac Vay en Kayla Geldenhuis. Voor: Charmé van Rooi en Ziyanda Rasinous.

 

Die VLV dames het egter sélf ook die geleentheid gekry om die dansbaan te betree, toe Annelie vir hulle ‘n lyndans geleer het. Dit was natuurlik groot pret.

 

kuru-dsc_0036

Annelie Fourie besig om die dames te leer lyndans.

 

‘n Toneelstuk met die titel, “Jan Taks se Tas” het die dames behoorlik laat skater vir die warm geld wat skielik oral ingedruk moes word toe Jan Taks met sy groot tas aan die deur klop.

 

kuru-dsc_0054

Jan van Zyl in die rol van Jan Taks tydens die toneel, “Jan Taks se Tas”.

 

Die rol van Jan Taks is heel gepas vertolk deur Jan van Zyl van Boshoff Visser. Daarna het hy die dames ingelig oor inkomstebelasting. Inkomstebelasting word gebruik om paaie, skole, ensovoorts in Suid-Afrika te finansier. Dit word een maal per jaar betaal en word bepaal volgens jou totale inkomste minus aftrekkings (soos mediese fonds).

 

‘n Mens moet ten minste R75 000 per jaar (R6 250 per maand) verdien voordat jy inkomstebelasting begin betaal. Indien jy tussen R75 000 en R180 000 per jaar verdien, betaal jy 18% belasting.

 

Indien jy ‘n inkomste van ‘n werkgewer verdien, maar ook ‘n ander inkomste van ‘n ander bron ontvang, moet jy registreer as voorlopige belastingpligtige, waar jy elke ses maande belasting sal betaal. Jy moet alle inkomstes aan SARS verklaar en rekord hou van alle inkomstes en uitgawes, hetsy dit kontant of via jou bankrekening is.

 

Jy kan ‘n persentasie van jou uitgawe op ‘n mediese fonds, pensioen en ‘n uittree annuïteit aftrek. Wanneer jou pensioen egter eendag uitbetaal, moet jy inkomstebelasting daarop betaal. Jy word egter ook belas op inkomstes soos huurgeld en rente.

 

Dit is wettig om belasting te vermy en ‘n rekenmeester sal jou daarmee help, maar om belasting te ontduik (soos in die toneelstuk) is onwettig. Mense raak dikwels paniekerig wanneer SARS ‘n oudit op hulle doen, maar Jan sê dit gebeur gewoonlik wanneer ‘n mens geld terug ontvang van SARS. In hierdie geval moet al jou besonderhede korrek wees by SARS en jy moet dit persoonlik verifieer deur self na ‘n SARS kantoor toe te gaan of een van hul mobiele eenhede te besoek. Neem ‘n bewys van jou bankrekening (gewoonlik ‘n brief van die bank), drie maande se bankstate, bewys van jou woonadres en ‘n gesertifiseerde afskrif van jou ID saam. Indien jy ‘n trust of soortgelyke instansie verteenwoordig, is dit ook nodig om ‘n magtigingsbrief van die ander bestuurslede te hê.

 

Janet West het kortliks oor tegnologie wat ‘n mens se lewe kan vergemaklik, gesels. Sy beveel die toep, Evernote, aan om jou nota’s op jou selfoon te konsolideer.

 

Willie Aucamp, wat pas as DA Raadslid ingehuldig is, het oor gemeenskapsbetrokkenheid gepraat. Willie is ‘n boer en het ‘n grondverskuiwingsmaatskappy. Hy dien ook op Laerskool Seodin se beheerliggaam.

 

Willie voel sterk daaroor dat ‘n mens die ek-gaan-niks-doen-nie-wat-help-dit-tog houding moet begrawe. Hy sal graag wil sien dat meer mense by gemeenskapsorganisasies betrokke raak, veral jongmense. Kuruman beskik reeds oor goeie organisasies – dit is ‘n groot voordeel wat die platteland bo die stad het. Hy sê ‘n mens moenie bang wees om ‘n verskil te maak nie.

 

Vra jouself waar jy kan help en begin daar – dalk is daar arm mense in jou kerk wat jy kan help.As raadslid voel Willie hy verteenwoordig die gemeenskap, maar die belangrikste deel is dat hy dit doen met die hulp van die gemeenskap. Hy kan nie alleen die wa deur die drif trek nie. Hy stel voor dat mens sommer met jou buurman langs die braaivleisvuur gesels oor watter organisasies jy by betrokke is en hom so inspireer om ook betrokke te raak.

 

kuru-dsc_0066

Bessie Kriek het namens VLV Kuruman ‘n lys van wenke en idees, sowel as probleme aan Willie oorhandig. Hy het die gebaar besonder kosbaar gevind.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

kuru-dsc_0112

Petro Spangenberg (15 jaar) en Bessie Kriek (55 jaar) het knopies ontvang vir hul jare lidmaatskap aan die VLV.

 

kuru-dsc_0099

Ansie Cilliers het die wen-blomrangskikking gemaak.

kuru-dsc_0103                    kuru-dsc_0107

Sarie Leyden het die Handvlyt-afdeling gewen.                        Tinkie Erasmus het beide die Kookkuns- en Gebottel-                                                                                                                    afdelings gewen.

Post a comment

4 × 3 =