In memoriam

 

In memoriam

Posted by VLV in Hantam Tak, News, SIRKEL NUUS 26 May 2014

Sirkel: Namakwaland

Tak: Hantam

Beriggewer: Karien van Schalkwyk & Janine Brynard

Datum: 25 Mei 2014

 

Namens al die VLV-lede van Sirkel Namakwaland:

‘n HULDEBLYK aan ‘n baie besondere lid

Margaretha van Eeden, Erelid van die Hantam VLV-tak, was, behalwe ‘n dogter, ‘n suster, ‘n eggenoot, ‘n moeder, en ‘n ouma, ook ‘n skooljuffrou, ‘n boervrou,  ‘n vriendin, ‘n mentor  en ‘n vertroueling vir menige Calvinia-vrou, ‘n voormalige VLV-sirkelvisepresident. 

Tannie Margaretha was een van die stigterslede van Rhenoster-Visrivier VLV-Tak in 1954.  In dié Tak het sy verskeie portefeuljes beklee en in die Sirkel was sy Sirkelsaamroeper vir Opvoeding vanaf 1969 tot 1974. Vanaf 1974 tot 1988, vir 14jr, was sy die Visepresident van Sirkel Namakwaland.

Nadat  Rhenoster-Visrivier tak in 2002 ontbind het,  het Tannie Margaretha by die Hantamtak aangesluit.

 

In  Februarie 2014 het sy haar 94ste verjaardag herdenk en sy sou in September haar 60 jaar-lidmaatskapkenteken van die VLVK ontvang.

Tannie Margaretha het graag vertel, dat mense haar gereeld gevra het, wat haar geheim was om nog so goed te lyk vir ‘n dame in haar 90’s.  Ook waarom sy nog so gesond was?  Haar antwoord was, dat ‘n mens positief moet lewe, want negatiwiteit maak ‘n mens siek.  Verder was dit absoluut haar fokus om in mense te belê.  Vir haar was mense die belangrikste in haar lewe – blymoedige, inspirerende en veral opregte mense, wat van jouself ‘n beter mens kan maak.  Haar nederigheid, haar wysheid en insig, haar gawe om te luister en goeie raad te gee en bowenal die uitleef van haar Christenskap, is vir ons  kosbare herinneringe wat ons altyd sal koester.

Ons groet en salueer vandag ‘n baie, baie besondere vrou.

Sirkel Namakwaland eer haar nagedagtenis.

Post a comment

2 × 2 =