In memoriam

 

In memoriam

Posted by VLV in Moorreesburg, News 27 Jun 2014

Sirkel: Weskus
Tak: Moorreesburg
Beriggewer: Martelize Britz
Datum: 27 Junie 2014

Die langsdienende VLV- lid van Moorreesburg, Juffrou Anna Basson, is oorlede op 26 Junie in die rype ouderdom van 101 jaar.  Sy is gebore op 23 Desember 1912 te Oudtshoorn as ‘n nooi Schoeman en was vir 79 jaar ‘n getroue lid van die VLV.

Juffrou Anna, so genoem aangesien sy ‘n onderwyseres was wat vir die meeste mense ouer as 30 in Moorreesburg skool gegee het, was ‘n geliefde lid van die gemeenskap, wat haar Christenskap uitgeleef het sonder om dit aan die groot klok te hang.  Sy was die persoon wat altyd nuwe intrekkers gaan verwelkom het en almal wat haar geken het, praat met warmte van haar menswees.

Juffrou Anna was eens boervrou van die plaas Anyskop, maar het na haar man se afsterwe in 1959, na Moorreesburg verhuis.  Sy het haar as kindertuin onderwyseres bekwaam en na een jaar se skoolhou op Hopefield, het sy in Moorreesburg begin werk tot haar aftrede in die 1960’s.

Sy was aktief en het tot op 93 rolbal gespeel asook haar eie motor bestuur. Daarna het sy steeds, winter en somer die bult van Loopstraat flink uitgeloop. Juffrou Anna was ook lief vir reis en het Dubai, Egipte, Europa en Skotland besoek.  Sy was ook baie lief vir bak en het haar stoof en motor die meeste gemis nadat sy na die ACVV aftreeoord verhuis het. Juffrou Anna het 5 kinders, 2 seuns en 3 dogters gehad.  Sy was baie lief vir gedigte skryf en kon hulle almal uit haar kop onthou en voordra.

Ons sal haar terdeë mis by ons vergaderings, maar gun haar die rus, sy het voorwaar haar deel gedoen.

Post a comment

5 × one =