Iets van Alles

 

Iets van Alles

Posted by VLV in Jamestown Tak 10 Jun 2015

Sirkel:  NOK

Tak:  Jamestown

Portefeulje:  Opvoeding & Kultuur, Leefstyl, Kuns & Handvlyt, Landbou, Gesondheid, Openbare Sake

Beriggewer:  Antoinette van Pletzen

Datum:  10 Junie 2015

 

 

Ds Andre Theron van Aliwal-Noord het oor Gemeenskapsbetrokkenheid gepraat, na aanleiding van sy 10 jaar se werk in Namibië.  Jesus het vir ons die volmaakte voorbeeld van naastediens kom wys – gaan gee net só. Ds Andre het dit met ‘n video-uittreksel toegelig wat gewys het hoe klein kindertjies skoolgereed en Engels geleer word, anders mag hulle nie skool toe gaan nie.  It is a lasting legacy – empowering children to become all that they can, and not the money that you donate!

 

 

DSCN0378 (Custom)

Ds André Theron en Cecile Nel

 

 

DSCN0384 (Custom)

Cecile Nel se jellie-tafelversiering, Mola-appliek, en gerestoureerde boek.

 

 

Daarna het Cecile Nel voorbeelde van Mola-appliek vertoon, waar tot 7 lae materiaal met die hand opmekaar vasgewerk kan word. Sy het ook die aandag op haar tafelversierings gevestig waar sy o.a. turkoois jellie in ‘n mooi glashouer gemaak het en roosknoppe daarin gestol het. Daarna het sy gewys hoe om boeke te restoureer. Kleeflint hou nie en verkleur ook. Neem ‘n stuk karton en vou drie lae wat so breed is as wat die boek dik is. Plak met koue lym onder die omslag vas. Maak dan ‘n binneblad van “scrapbooking”-papier.

 

 

DSCN0390 (Custom)

Die rooi Gerbera in wording.

 

 

Nadat Mariana van Pletzen vir elkeen ‘n klein skinkbord lappie uitgedeel het, het sy blomstensils en skêre uitgedeel waarmee 11 blomblaar-vorms uitgeknip moes word. Nadat dit opmekaar geplak is, het dit ‘n pragtige Gerbera/Barberton madeliefie gevorm. Sy het ook die verskil tussen verkoue en griep verduidelik, asook die verskillende soorte hoes en die belangrikheid van die regte hoesgoed vir die spesifieke soort hoes.  Neem ‘n griepvoorkomingsmiddel vroeg in die seisoen, aangesien dit ± 8 weke neem om in te skop. Was jou hande gereeld en hoes eerder in jou geboë elmboog in, eerder as in jou hand. Rus genoeg sodat jou liggaam krag kan hê om die kiem te beveg en bly warm. Rook ook minder (of glad nie!).

 

 

Antoinette van Pletzen het ‘n inligtingstuk oor die volgende uitgedeel:

  1. Neem van goeie selfoonfoto’s. Hou die lig dop (oggende is beter), Kry ‘n ander perspektief (probeer ongewone hoeke), Maak vriende (en vra mense om foto’s van hulle te mag neem), Gebruik lae (soos bome, blare, berge, ens), en neem vroeg of laat foto’s.
  2. Basiese woorde in Xhosa, Zoeloe en Sotho. Madiba het gesê “As jy met iemand in ‘n taal praat wat hy verstaan, gaan dit by sy kop in. As jy met hom in sy eie taal praat, gaan dit by sy hart in.”
  3. Kombuiswenke.
  4. Merkers wat deur inbrekers gebruik word. As klippe, bakstene en stokke bv. op ‘n sekere manier opmekaar gestapel of neergesit is, sê dit iets van die inwoners van die naaste huis. Verfmerke op die pad of padtekens gee inligting oor die spesifieke straat. ‘n Voorwerp in ‘n spesifieke kleur gee ook belangrike inligting. Luister na HOE jou honde snags blaf, HOE voëls hul geluide maak, HOE daar gefluit word – wees bewus van afwykings van die normale. Moenie uitgaan as ‘n kraan buite oopspring, die alarm buite afgaan, of die krag buite moet aangeskakel word nie – dit kan alles lokvalle wees.
  5. E-Afval en Bisphenol A. E-Afval is elektroniese items soos selfone, rekenaars, drukkers, ens. wat nie meer werk nie. In Lady Grey en Queenstown is persone wat dit uitmekaarhaal en hersirkuleer. By Makro-winkels in Bloemfontein en PE is ook houers waarin dit geplaas kan word. Bisphenol maak plastiek hard en word veral in die voering van kos- en koeldrankhouers gebruik. Dit kan afbreek en skadelik wees vir die mens. Moenie baie blikkies produkte gebruik nie; Moenie kos in plastiese houers opwarm nie – veral in die mikrogolf; Gebruik slegs BPA-vrye plastiek – ook vir bababottels; Moenie kommersiële plastiese bottels oor en oor gebruik nie.
  6. Kindersêgoed.

 

 

Elkeen het ook ‘n Boekmerk ontvang met “Die Lewe se klein Instruksies” daarop, asook ‘n klein groetekaartjie. Daarna het Antoinette verduidelik hoe om op Whats App te kan bel en “stem”-boodskappe te stuur i.p.v. ‘n SMS.

 

 

Ná ‘n ligte middagete het almal vertrek na die Buffelsvlei Wildreservaat net buite Aliwal-Noord waar verskeie diere onder leiding van Jurie Wessels van die plaaslike Munisipaliteit besigtig is. Die reservaat is 1330 hektaar groot. Die volgende diere word hier aangetref: Buffels, Springbokke, Blesbokke, Swartwildebeeste, Rooihartebeeste, Gemsbokke, Zebra, Eland, Volstruise en Rooiribbokke. ‘n Projek wat hier beplan word, is die bou van vyf chalets wat op die Kraairivier uitkyk. Die paaie en heining gaan opgegradeer word, asook uitkykpunte wat gebou gaan word. Die fondse kom van die Dept. van Omgewingsbewaring af. Hierdie projek wil ook die Natuurreservaat meer toeganklik maak vir die publiek.

 

 

 

Post a comment

13 + 6 =