Huldeblyk aan Lydia Geldenhuys

 

Huldeblyk aan Lydia Geldenhuys

Posted by VLV in News, SIRKEL NUUS 02 Aug 2019

Sirkel: Overberg

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 1 Augustus 2019

 

Lydia Geldenhuys laat ‘n Voetspoor

Oorlede op 26 Julie 2019

  

Vir Lydia………………

15 Maart 1942 op Hermanus se sand, het die ooievaar met ‘n ronde-vet bondeltjie geland

Saam juig ‘n trotse Pappa en Mamma Fourie toe klein Lydia haar eerste skreeutjie skree.

By Miemie ‘n uithaler VLV-ma soos min, kry sy haar  VLV-liefde met moedersmelk in.

‘n Liefde wat deur die jare sou gedy, tot ons haar tans bo-aan die ere-rol kry.

 

Ook sy moes in haar lewe heel onder begin, dus stap sy by Hermanus se Laerskool in.

Vandaar na dieselfde Hoërskool gegaan, waar sy later as hoofdogter haar plek volstaan

Maar eers bring sy in stvii haar talente op die planke,

en daaraan het sy uiteindelik haar huwelik te danke

Want Pêrel, die vissersmeisie het Pappa Snoek só bekoor,

dat George sy hart net daar hopeloos verloor!

Eers nadat sy B.Comm agter haar naam kon skryf,

kon hy haar by die Geldenhuys-familie inlyf.

Met die sout van die see in albei se are, bly hulle op Hermanus al die jare.

Twee seuns en ‘n dogter kom by, om die gesinnetjie voltallig te kry.

 

Tussendeur woeker sy met elke moontlike talent, gaan oral voluit, gee haar 100%

Op menige komitee het sy gedien, tot ons haar oplaas as stadsraadslid sien.

As jong vrou sluit sy by VLV aan, waar sy met rasseskrede vooruit sou gaan

Van Sekretaresse en Voorsitter van Hermanus se tak,

vorder sy tot Sirkelpresident met die grootste gemak

Graag sou ons haar die titel van VLVK-president wou gee,

Maar in 2000 het sy as Vise- uit die wedloop getree.

 

By die kompetisie “VLV-vrou van die Jaar “het ons finalis tog besonder goed gevaar,

En al het sy nie eerste gekom, bly ons trots op sirkel Overberg se blom!

Met haar positiewe geaardheid lei sy ons tree vir tree,

om ons beste vir VLV en twee Kongresse te gee.

Vir al ons funksies het sy kilometers ver gery, met Suzie van Zyl getrou aan haar sy

By elke byeenkoms word ons met haar wyshede besiel,

om harder te werk, skouer aan die wiel .

 

Lydia, na al die jare van liefdesdiens, groet die Sirkel vandag en sê “Totsiens”

Ons wens jou die beste toe vir die tydvak wat nou begin

Wees maar net Ouma en geniet jou gesin!

 

Met Lydia Geldenhuys se uittrede as Overbergse sirkelpresident in 2001, het wyle Melene Doman, VLV-lid van Villiersdorp vir haar die bostaande gedig geskryf en die tak het ‘n geraamde kopié daarvan aan haar oorhandig. Dit som haar lewensloop en VLV-grondslag baie goed op.

 

Nou, met haar heengaan op 26 Julie neem sirkel Overberg swaar afskeid van hierdie formidabele VLV-leier wat tot op die einde nog haar belangstelling in die wel en wee van haar Hermanustak en sirkel Overberg se lede behou het. Sy was ons raadgewer, ons vriendin, ons ere-sirkelpresident sedert 2004, na wie ons almal steeds opgesien het.

 

Sy was  die Overbergse sirkelpresident vir amper 20 jaar – vanaf 1982 tot 2001 – en  slegs maar die vierde president in dié amp. Onder haar leierskap het die sirkel in 1993, toe nog bekend as sirkel Caledon, die Jaarkongres van die Vroue-Landbouvereniging van die Kaapprovinsie (VLVKP) op Hermanus aangebied. Watter wonderlike sukses was dit nie, en vir ons die vreugde dat ons sirkelpresident as die nuwe vise-president van VLVKP verkies is om saam met mev. Ronella Rademeyer, nuutverkose president, die leierskapsjuk op te neem. Sy het ons deur die politieke onstabiliteit van ‘n nuwe bedeling laat koers hou, maar ook ons eenheid behou, toe met besprekings begin is om die naam van die sirkel na “Overberg” te verander om geografies ‘n beter beskrywing te gee. In Maart 1995 word die eerste konferensie van sirkel Overberg op Bredasdorp gehou en ‘n nuwe vaandel, deur Carien Badenhorst van Gansbaai gemaak, word saamgeneem en vertoon by die Jaarkongres van VLVKP in die Strand.

 

Sy was ‘n geliefde sirkelpresident en het met vreugde en entoesiasme sover moontlik, al die uitnodigings na die onderskeie takke se verskeidenheid funksies en geleenthede bygewoon. En altyd maar was daar die woorde van wysheid, die kwinkslae en die gepaste aanhalings as sy ‘n heildronk moes instel of net ‘n paar woorde moes sê. In haar termyn as sirkelpresident en dus Hoofbestuurslid van VLVKP, was Lydia ook provinsiale saamroeper vir die portefeulje Opvoeding waardeur sy elke lid se kennis oor ons organisasie en wyer skakeling, uitgebou het.

 

In 2000 bied sirkel Overberg die Millennium Kongres aan met die tema “Betrokkenheid” en Lydia Geldenhuys kry man en muis betrokke! Die VLVK-tema was “Ons gee om vir ‘n Boek”, maar sirkel Overberg publiseer toe sommer self ‘n boek, ons verjaarsdagkalendertjie met kontreiresepte. Vandag is Lydia se resep vir haar befaamde perlemoen by Januarie se verjaarsdae ‘n wonderlike kleinood. Haar hart het altyd warm geklop vir haar land soos die uitstalling om die Anglo-Boereoorlog van 100 jaar terug te gedenk, bewys het. Maar sy was ook ‘n kontreimens wat ‘n wip in haar stap gehad het toe Baardskeerdersbos se Boere-orkes die gaste verwelkom en Annetjie Liebenberg en SD Fourie die Strandveld verhoog toe bring – kompleet met ‘n bossie bokkoms!

 

Ná hierdie groot onderneming voer Lydia haar voorneme om uit te tree as sirkelpresident uit, en by die sirkelkonferensie op Kleinmond in 2001 word Hermien van Zyl, voorsitter op Villiersdorp en reeds bevoorreg om haar vise- te wees sedert 1999, as haar opvolger verkies. Nou vervul Lydia die rol van mentor, raadgewer en vriendin, nooit onwillig om haar wye kennis en ervaring van VLV te deel nie. In 2004 word sirkel Overberg se erepresidentskap aan haar toegeken, ‘n amp wat sy met waardigheid beklee het tot ons haar nou moet groet.

 

Sirkel Overberg kan in dankbaarheid terugkyk op Lydia Geldenhuys se VLV-betrokkenheid wat van huis uit gestrek het en ‘n lewenslange toewyding was. Laat elkeen van ons só ‘n voetspoor probeer laat.

 

Melene Doman oorhandig in 2001 die geraamde gedig aan Lydia Geldenhuys.

 

     

Die Millennium-Kongres van 2000

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die verjaarsdagkalender met Lydia se resep

 

 

 

 

Lydia word sirkel Overberg se ere-sirkelpresident

 

Die eerste VLVK 85 jaar-gedenkblikkie word deur Hermien van Zyl in 2014 aan Lydia oorhandig

 

Lydia oorhandig ‘n toekenning aan Hermien van Zyl, haar opvolger, toe sý uittree in 2015

 

Lydia saam met Hermien van Zyl en Rienie Ludick, nuwe president van sirkel Overberg

 

Die laaste amptelike foto saam met VLVK-president Karien van Schalkwyk tydens die 85ste Konferensie van sirkel Overberg in Hermanus in Maart 2018.

 

Leave a Reply