Hoërskool Porterville vier 150 jaar

 

Hoërskool Porterville vier 150 jaar

Posted by VLV in News, Porterville Tak 15 Mar 2020

Sirkel:  Weskus

Tak:  VLV Porterville

Portefeulje:  Opvoeding en Kultuur

Beriggewer:  Louwna Hoving, lhoving@telkomsa.net

Datum:  12 Maart 2020

 

VLV Porterville kyk met trots terug oor HOëRSKOOL PORTERVILLE se 150ste bestaansjaar.

 

Die geskiedenis van Hoërskool Porterville word deur Kaylene Dampies van die plaaslike museum aan lede voorgehou.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die eerste gebou was reeds in 1869 opgerig in Van Zylstraat, slegs 6 jaar na die stigting van die dorp Porterville.  Die een helfte van die gebou was vir die skool gebruik en Sondae vir gods-dienstige lesings. Die ander helfte was mnr. Joseph VM Maclean, onderwyser, se woning.

 

Die oorspronklike opening van die skool was beplan vir 17 Januarie 1870 maar het toe eers 20 Januarie geopen met 70 leerders.  Teen die einde van 1870 was daar 113 leerlinge, maar die gemiddelde bywoning was 43 omdat skoolgaan nie verpligtend was nie.  Om les te gee vir so-veel kinders in een klein lokaaltjie was ‘n geweldige taak vir een persoon. Hy kon geen goed-keuring vir ‘n assistent kry en voltooi nie sy 3-jaar kontrak nie. Die skool se deure sluit Oktober 1872. Teen 23 Desember 1872 rapporteer ds. Rabie in ‘n brief aan die goverment dat mnr. Bastiaanse aangestel is en Januarie 1873 sou begin as ‘n geen-skoolgeld publieke skool. Mev. Bastiaanse dien as assistent om haar man se takies te verlig. Hulle vra vir ₤15 met die belofte dat die gemeenskap ook ₤15 sal bydra.  Hulle verlaat die skool na 7 jaar en word vir ‘n kort rukkie opgevolg deur mnr. Meiring, waarna mnr. Pienaar oorneem vir die volgende 27 jaar.

 

Eerste eeu:  1870 ‘n 3de klas publieke staatondersteunde skool;  1879 ‘n 2de klas publieke staat-ondersteunde skool; 1911 ‘n Primêre skool; 1917 ‘n Sekondêre skool en 1920 ‘n Hoërskool. 2e skoolgebou, op die hoek van Voortrekker- en Markstraat, huisves die skool vir die volgende 17 jaar van 1894-1911.  Dis ook die gebou waar Standard Bank heel eerste gehuisves was. Die eerste gebou wat opgerig is alleenlik vir skooldoeleindes, waar die huidige hospitaal is, is gebruik van 1911-1957.  Die skool is toe gesloop en die nuwe skoolgebou word in 1957 betrek. Die skool het sedert stigting sestien skoolhoofde gehad.

 

Sport:  Atletiek en rugby was in die vroegste jare op die Markplein, waar ‘n rugbyveld en paviljoen was, beoefen.  Eers in 1971 het die Departement van Onderwys die grond gekoop aan die oostekant van die skool. Hulle het egter nie geld gehad om die grond te verwerk en bane te bou nie.  1976 begin die gemeenskap self wegspring, die grond word gelyk gemaak en die terrein word omhein. Daarna word die gras aangeplant, ‘n pomp en besproeiingspype word aangelê. Reeds toe word die atletiekbaan, paviljoen en kleedkamers beplan.  Met ouers hard aan die werk, vorder dit goed, maar die volgende jaar se winterreën omskep die terrein in ‘n moeras en dreineringslote moet eers gegrawe word.  Die oplossing: Bou ‘n opgaardam volgens swembadspesifikasies en omskep dit later in ‘n swembad. Gedurende Februarie 1979 begin ‘n ouer, wat ook ‘n boer is, met die opgrawings, die volgende maand begin ‘n buite maatskappy met die konstruksie en daar is ‘n swembad/opgaardam.

 

Skoolwapen:  1912-1934:  Wapen met uil, oop boek en koringaar. Die leuse was NOBIS NON SOLUM. Daar was gevoel dat die leuse vir die kinders betekenisvol moet wees en ook in hul eie moedertaal behoort te wees.  1934-1949:  Jaarblad nr. 1 word uitgereik met ‘n nuwe wapen met ‘n fakkel en duif. Die leuse, DIE BESTE ALLEEN GEE VOLDOENING moes ongelukkig verander word omdat ‘n ander skool reeds hierdie bewoording gebruik het.

 

1949-1954:  Jaarblad nr. 8 word uitgereik, weereens met ‘n nuwe wapen en leuse. Die wapen dra toe bo die opkomende son met ‘n ruiter daarvoor en onder ‘n ploegie, koringare en druiwetros. Die leuse: OP DIE VOORPUNT.  1954-1968:  Jaarblad nr. 10 uitgereik met die huidige vorm, behalwe dat die sonronding blou van kleur was.  1968-tans:   Die skoolwapen word aan deskundiges oor-handig wat dit finaal regstel en besluit om die sonronding na goud te verkleur.

 

Skooldrag:  Met die stigting van Hoërskool Porterville het die leerlinge nie formele skooluni-forms gehad nie, maar het wel elke dag netjies geklee die skool bygewoon. Dogters met net-jiese rokke en seuns met broek, baadjie en das.  In die 1940’s het die skooldrag al hoe meer eenvormig raak.  Dogters dra wit hemde met donkerblou/swart skooljurke of rompe en die seuns dra nog die netjiese broek, baadjie en das.  Op die matriekklasfoto van 1953 dra leerlinge vir die eerste keer  ‘n eenvormige donkerblou skoolbaadjie met ‘n skoolwapen op.  Dasse verskil nog, maar almal nou in trotse skooluniform, bestaande uit wit hemp, das en romp met netjiese wit sokkies en skoene vir die meisies, terwyl die seuns almal netjiese grys broeke, wit hemde, swart skoene en das dra.  In  1958 is daar ‘n nuwe skoolbaadjie (kleur van baadjie donkerblou met goud, blou en rooi strepe) en in 1961 kry die skooldrag ‘n bypassende das met dieselfde kleure as die baadjie.  Vir baie jare word daar daaraan gedink om die warm wit hemp met die donkerblou skoolrok vir die dogters na iets koeler te verander, aangesien die temperatuur soms bo die 40° gaan draai.  Die meisies se skoolrokke verander na ‘n blou en wit skool-rok met knope voor.

 

Interessante feite:  Hoërskool Porterville is een van 200 oudste skole van die 8 028 in die land, waarvan 1 325 in die Wes-Kaap is.  104 skole van die 205 het in 2019 ‘n 100% matriekslaag-syfer behaal, waarvan 27 skole in die Wes-Kaap en Hoërskool Porterville is een van hulle!

 

Tinkie van Zyl, een van ons VLV-erelede wat al 70 lid is, het by Hoërskool Porterville skoolge-hou vir baie van die ander lede en ook nog vir van hulle kinders.

 

VLV-Porterville is dus trots om ‘n goeie verbintenis met die skool te hê en is saam verheug oor die 150-jaar-mylpaal.

 

 

 

 

 

 

Minke Hanekom en Yvonne Coetzee het elkeen ‘n voordrag gelewer waarmee hulle presteer het by die Eisteddfod.

Leave a Reply