Hier POP dit

 

Hier POP dit

Posted by VLV in Hofmeyr Tak, News 22 Jul 2014

Sirkel:  Cradock

Tak:  Hofmeyr

Portefeulje:  Leefstyl

Beriggewer:  Teresa Opperman

Datum:  21 Julie 2014

 

Hofmeyr VLV het tydens hul onlangse maandvergadering vir Elmien Downey as gasspreker gehad.  Sy het aan ons verduidelik en prakties demonstreer hoe sy te werk gaan om ‘n verskeidenheid Pops te bak.

 

Pops is ronde koekies wat met sponskoekdeeg gebak word, in ‘n spesiale pan, en dan agterna in verskeie temas versier kan word.  Sy het skoenlappers, glinsterende balle, kersfeesballe met blinkers, en balle wat soos stokkielekkers lyk, gemaak.  Sy het haar tegniek al verfyn, en kon mooi verduidelik watter verskillende planne gemaak kan word om elke keer ‘n ander effek te verkry.  Sy meng bv gewone eetbare blinkers met ‘n paar druppels alkohol, wat dan verdamp en dan kan die pops met die glinstervloeistof geverf word.

 

006

Die ‘Lady Bird’ koek het almal gaande gehad,  maar groot was die verrassing toe die koek gesny word, en daar selfs Liewenheersbesies binne in die koek is!

005

Elmien Downey het haar Cake Pops aan lede kom demonstreer en ook ‘n uitstalling gehou van die verskillende pannetjies wat sy daarvoor gebruik.

004 (2)

Voorsitter Dadda de Jager en sekretaresse Estelle Kruger het die uitdaging om hul eie besondere skouerruiker saam te flans, met oorleg uitgevoer!

 

As ‘n spesiale verrassing het sy vir Marisca Traut genooi om ‘n pragtige laagkoek met liewenheersbesies bo-op te sny.  Toe die koek gesny is,  het daar ‘n duidelik liewenheersbesie binne die skyf koek gesit.  Die balletjie wat sy met die Popmaker gebak het,  het sy helderrooi gekleur,  swart spikkels met spesiale swart kleursel daarin gesit om swart spikkels te maak,  en toe die rooi ‘lady birds’ in die koekpan gepak voordat sy dit met haar laagkoekmengsel bedek het.   Die eindresultaat was ‘n spogkoek wat ook ‘n prettige teekoek of verjaardagkoek vir ‘n kleinding sal wees.

 

Madri du Plessis,  oudste lid wat teenwoordig was by ons vergadering,  het voorts die item aangebied, deur talle prettige grappies uit haar immergroen grappiesboek voor te lees.  Madri versamel al vir jare grappies uit tydskrifte en koerante,  plak hul dan in haar notaboekie,  en sy is altyd beskikbaar om enige oomblik op te tower met ‘n grappie.  Sy gebruik ook die boekie as sy iewers heen ver moet reis,  want al die grappies is ideale leesstof vir die lang pad.

008

Een van Hofmeyr VLV se oudste lede, en sy bly steeds aktief.  Madri du Plessis het haar nimlike grappiesboek weer eens te voorskyn gebring,  en lede laat skater met ‘n paar grappies tydens haar item-beurt.

Teresa Opperman, sameroepster van Leefstyl,  het die dames vertel van nuwe neigings in Binnehuisversiering.  Sy het hoofsaaklik van vars inligting vanaf die Internet gebruik gemaak, en die nuwerwetse style met behulp van foto’s verduidelik.  Alle style van gesofistikeerd klassiek, modern grafiese styl,  gemaklik en ontspanne styl en antieke eklektiese styl is bespreek.   Kenmerke van die besondere style is ook in ons ouer wonings te bespeur,  en in sommige gevalle word die style gekombineer vir jou eie persoonlike styl.  Sy het ook ‘n uitstalling gehou van artikels wat sy gerestoureer en geherstoffeer het.

 

001

Teresa Opperman het ‘n versameling van die onlangse artikels wat sy en haar helpsters by haar werkswinkel in die distrik gerestoureer en geherstoffeer het,  kom uitstal.

Post a comment

one × four =