Hier gebeur dinge

 

Hier gebeur dinge

Posted by VLV in News, Vredendal Tak 27 Oct 2018

Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Sophie Malan

Datum: 19 Julie 2018

 

V L V Vredendal besoek Steilhoogte Primêre Skool

 

Vredendal se VLV-tak het onlangs Steilhoogte Primêre Skool besoek. Watter positiewe, opbouende ondervinding was dit nie! Van die oomblik wat ons by die onberispelik netjiese skoolgrond ingery het, het dit mens hoop gegee vir ons deurmekaar land.

 

Die oog val heel eerste op ‘n groot bord: Karoovlak Park. Onmiddellik weet mens: Hier gebeur dinge!

 

Mnr Spamer, die skoolhoof, vertel hoe hy destyds gevra is om die kwynende skooltjie ‘n bietjie reg te ruk. Heel eerste het hy vir die kinders (wat meesal uit haglike omstandighede kom) sweetpakbaadjies bekom, sodat hulle dit oor hulle gewone kleertjies kon aantrek, maar almal eenders kon lyk. Deesdae het hulle netjiese skooldrag en selfs sportklere. Laasgenoemde word by die skool gehou en na gebruik gewas en gestryk deur die dogters van die “basisklas”. Die basisklas is wat vroeër jare die spesiale klas genoem is. Spesiale klasse bestaan nie meer nie, maar by hierdie skool is ‘n leerplan geskryf vir leerlinge wat nie in ‘n “gewone” klas kan funksioneer nie. Hulle word vaardighede geleer wat hulle kan gebruik om later in die lewe werk te kry. Die seuns help met die varkboerdery, wat tot stand gekom het om die kos wat oorbly van dit wat die WKOD se trok elke Maandag kom aflaai vir die twee maaltye wat die leerders elke dag kry. Die Department laat nie toe dat die kos die skoolgrond verlaat nie (om korrupsie te voorkom). Daar word ook fluks tuingemaak en groente gekweek. Vredendal Kwekery verskaf bome. Die skool het ook watersuiwerings-toerusting.

 

Volgens die personeel het hulle nie veel probleme met dissipline nie. Die skool het ‘n puntestelsel waarvolgens leerders punte kan verdien met goeie gedrag en prestasie. Hulle kan hierdie punte gebruik om tyd te “koop” om pouses met die gesogte rekenaarspeelgoed te speel. Natuurlik gaan hulle nie hulle punte verbeur nie!

 

Wat duidelik is, is dat “seëninge reën” op ‘n instelling wat so toegewyd is aan die welsyn van die wat gedien word.

 

Iemand moet net die leisels vasvat. Ons wens elke jong onderwyser wat in hierdie land kwalifiseer kan ‘n draai by Steilhoogte maak.

 

 

 

 

Truie

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Klasse

 

 

 

Mosaïek

 

Post a comment

two + 9 =