Herwinning word bevorder

 

Herwinning word bevorder

Posted by VLV in Porterville Tak 06 Aug 2015

Sirkel:  Weskus

Tak:  Porterville

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer:  Louwna Hoving

Datum:  6 Augustus 2015

 

 

Mnr. Hendrik Kröhn verduidelik met behulp van ‘n Powerpoint-aanbieding die agtergrond, wetgewing en in werking stel van die afvalbestuur.  Die projek het drie jaar gelede begin met die sluit van die stortingsterreine en het netheid en higiëne bevorder.  Swartsakke word na oorlaaistasies vervoer en dan na Malmesbury vervoer. Stortingsterreine word nou slegs vir bourommel en tuinvullis gebruik.

 

 

Die driesakstelsel het ‘n besparing van 24%  oor ‘n termyn van 3 jaar teweeggebring.  Afval word verdeel in huishoudelike natvullis (swartsak), tuinvullis (groensak) en herwinbare vullis (deurskynende sak).

 

 

Die Munisipaliteit hanteer nog nie elektroniese afval op hierdie stadium nie.  ‘n Voorstel van die VLV is dat so ‘n projek geloods word waar ‘n houer by ‘n vulstasie geplaas word en dan daar-vandaan na Vissershok vervoer word.

 

 

Mnr. Rassie Bothma vertoon die inhoud wat in deurskynende sakke gegooi moet word en gee die volgende wenke:

 

Druk plastiek bottels plat  en draai weer die prop op om spasie te bespaar;  spuitkannetjies se plakkers moet nie afgetrek word nie sodat hulle dit kan sorteer by die herwinningsentrum; papier moet skoon wees, nie bloederig of nat nie.

 

 

Die volgende afval kan herwin en in deurskynende sakke geplaas word:  kartondose, riffelkar-ton, kantoorpapier, boeke, koerante, tydskrifte, gebreekte glas, spieëls, wynbottels en ander glashouers, aluminiumfoelie, skuifspelde, krammetjies, drukspykers, spuitblikkies, koeldrank-blikkies, metaaldeksels, plastiekhouers van skoonmaakmiddels, bierblikkies, kosblikkies, plas-tiek koshouers, uitgespoelde melksakkies.

 

 

Die volgende word in swartsakke gegooi:  waspapier, tetrapakke (soos melk- en sapdosies met blink binnekant), deurslagpapier, plakkers, ponskonfettie, riembinders, kleefplastiek, plastiekverpakking om blikkies en toiletpapier en alle nat kombuisafval.

 

 

Tuinvullis word in groensakke geplaas en elke erf mag 2 sakke per week uitplaas.  Die groen- en deurskynende sakke word vervang soos dit uitgeplaas word.  Om te verhoed dat dit rondwaai kan ‘n klip by die sakke geplaas word.

 

 

Lede gee die wenke:  foamolite bakkies in ‘n glasfles gegooi met  verdunner (thinners) is  han-dige vuuraanstekers.  2ℓ-Coke-bottels gevul met kookwater  (dit krimp) verhit ‘n bed heelnag.

 

 

Bergrivier Munisipaliteit is derde in Wes-Kaap vir afvalbestuur volgens advokaat Hanlie Linde.  ‘n Samewerkingsvennootskap tussen die Munisipaliteit en VLV word gesluit dat lede behulpsaam sal wees om enige ongerymdhede onmiddellik te rapporteer en ook om die herwinningsboodskap te versprei.  Lede kan ook by toeriste by kampterreine die boodskap oordra.

 

 

Alle klagtes kan aan die Munisipaliteit gerig word en adv. Linde waarborg dat daaraan aandag gegee sal word.  Sy versoek ook dat geen orige drank in bottels vir munisipale werkers gelaat moet word tussen die afvalsakke nie.

 

 

‘n 10 minute-aktiwiteit word aangebied deur adv. Linde waarin lede hul kreatiwiteit met die drie verskillende sakke moet doen.  Hulle paradeer met hul skeppings en 3 pryse word oorhandig aan Zabetha Albertyn, Netta de Villiers en Mary-Ann van Schalkwyk.

 

 

Willemien Burger doen ‘n Powerpoint-aanbieding om die belangrikheid van herwinning in belang van die natuur (omgewingsinpak) te benadruk en oor die klassifisering van plastiek in sewe groepe volgens kodes.  Herwinning is werkskeppend en rommelstrooing word beperk.  Interessante feite word gedeel hoe lank dit neem om die volgende af te breek:

 

 

Toiletpapier (1 tot 4 weke), piesangskille (3 tot 6 weke), babadoeke (550 jaar), wolsokkies (1 tot 5 jaar), rubber-stewels (50 tot 80 jaar), sigaretstompies (10 tot 12 jaar), koerante (1½ maande), melkkarton (sonder plastiekgedeelte binne) (5 jaar), plastiekbottels (450 jaar), plastieksak (1 tot 1000 jaar), vislyn (600 jaar), aluminiumblik (200 tot 500 jaar), glas (tot miljoen jaar!)  Rommelstrooiing veroorsaak ook baie diere se dood.

 

 

Lede skenk gebreide artikels vir verdeling tussen die Kliniek, Hospitaal en Homecare Base.

 

 

Foto 1

Zabetha Albertyn, Netta de Villiers en Mary-Ann van Schalkwyk, wenners van die 3-sak aktiwiteit se modeparade saam met Rassie Bothma, Hendrik Kröhn en adv. Hanli Linde van die Bergrivier Munisipaliteit

 

 

Foto 2

Gebreide artikels en donasies vir die Armoedeprojek.

 

Post a comment

two × one =