Hee-Ha ons verjaar!

 

Hee-Ha ons verjaar!

Posted by Natania Schmidt in Acqua Tak, News 10 Oct 2019

Sirkel Middelland

Tak: Acqua

VERJAARSDAG

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 9 Oktober 2019

 

Op die laaste Sondagaand van September val die water in seënstrome oor ons stukkie stadsaarde. Elders in die land is dit nog dróóg. Nog elders het die water pad gemaak deur huise en tuine. Ons ken nie die groter prentjie nie, maar gelukkig is die pad lankal vir ons berei. Droog of nat, die lewe is tog ‘n pelgrimstog. ‘n Reis van genade. Al wat ons kan doen is om op die pad te bly. In geloof en hoop een voet voor die ander een te sit.

 

So het die Acqualede alreeds vir 35 jaar een voet voor die ander gesit. Ons is deel van ‘n ryke geskiedenis van vroue wie nie net op die pad bly nie, maar ‘n daadwerklike verskil maak en nuwe weë baan. Die pad is geloop, my Lam. Die voetspoor is getrap. Ek en jy is deel van ‘n baie groter prentjie.

 

Verjaarsdag is rede vir ‘n fees. En fees is daar gefees.

 

Lede en gaste was aangeraai  om ‘n Stetson te leen, sou daar nie een op die kapstok wees nie. Die cowboystewels (wat seker agter in die kas weggesteek word) moes ‘n leksel politoer kry. Die jongelinge wil nie aldag erken dat hulle na Countrymusiek luister nie. In Acqua se geledere is almal groot en koel genoeg om ruiterlik te erken dat daar alte lekker saamgesing word wanneer daar ‘n “kountrie” (sic) nommertjie speel.

 

Buitendien, die Kwa-Kwa’s hou hulle g’n ongemerk as dit kom by geniet en lekker kuier nie. Nie eers Ray Charles en sy sewe Spaanse engele sou die “girls” kon keer om hulle te verbeel dat PEGC die Grand Ole Opry in Nashville was nie. Verbeelding kos mos niks.

 

Willie Nelson was nou wel nie die kunstenaar nie, maar dit was vir seker ‘n aand vol pret. Gelag is daar met groot oorgawe gelag. Die kunstenaar wat opgetree het, het beslis geen gebrek aan selfvertroue nie. Laaaaank na die ligte aangesit is en die Bestuur begin opruim het, toe sing die knaap nog.

 

Op ‘n minder vals noot kan ons bevestig dat Acqua se 35ste verjaarsdag in die anale aangeteken sal wees as die VETKOL-verjaarsdag van die eeu.

 

Niemand het te perd arriveer nie. Ou Bles was rustig tuis. MAAR, daar was cowboys! A ja a. En hulle was sag op die oog, hoor. Galant en vriendelik. Niemand het ‘n sitplek gevind sonder ‘n sjarmante cowboy om haar te vergesel nie.

 

 

 

 

Te midde van al die gelag het ons steeds ons seëninge getel, want daar’s BAIE om voor dankbaar te wees. Die voorreg van VLV-lidmaatskap, die seën van vriendskap en die geborgenheid van die Acqua-vriendekring is onvervangbaar. Die gourmet hamburgers, outentiek bedien in blikborde, was héérlik. Die geselskap om die tafels was gemoedelik, die vrolikheid sonder voorbehoud en die reën, oooo die reën het mildelik oor die stad geval.

 

Baie geluk met 35 bestaansjare liewe Acqua. ‘n SPOGtak sonder gelyke. Doe so voort.

Leave a Reply