Hantam VLV toer na Chennai

 

Hantam VLV toer na Chennai

Posted by VLV in Hantam Tak 25 Jul 2014

Sirkel:  Namakwaland

Tak:  Hantam

Portefeulje:  Opvoeding En Kultuur

Beriggewer:  Janine Brynard

Datum:  25 Julie 2014

 

 

Party mense is baie bevoorreg om regoor die wêreld rond te reis.  Ander weer droom maar net daarvan om eendag, wanneer die skip eindelik sal inkom, onbekende terreine te verken.  Hoe ookal sy, dit bly baie opwindend, of jy nou self daar was, maar ook of jy iemand anders se reis saam met hom kon beleef…al is dit dan nou net met foto’s.

 

 

So gepraat van, die dames van Hantam VLV was só gelukkig om ‘n stukkie van Indië te beleef!  Karien van Schalkwyk het die voorreg gehad om die vorige VLVK president, me Erika Lubbe, te vergesel op haar reis na Chennai, Indië, tydens die Wêreldbond van Plattelandse Vroue se 27ste driejaarlikse konferensie einde verlede jaar.  Afgevaardigdes van regoor die wêreld woon hierdie konferensies by en dit is voorwaar die geleentheid van ‘n leeftyd.  Die verskillende afgevaardigdes uit Suid-Afrika, was, onder andere VLVK, SAVLU, Dameskring, Huisvroue klub, Bafokeng Vroueklub, Vrystaat, Natal, Overvaal en Noord VLU,  Fine Art Broidery Guild, Solidarity Helping Hand women in Action en die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (ACVV).  Die hele konferensie is gereël deur Daughters of Mary Immaculate van Chennai.  Die tema van die konferensie was Empowering Women Worldwideencourage, educate, enrich.  Met behulp van ‘n foto-vertoning, het Karien die Hantam-dames op ‘n reis gevat deur Chennai, maar ook Delhi, Agra, Kathmandu, Nepal en Mumbai, waar hulle besienswaardighede besoek het.

 

Ten spyte van groot finansiële en ander uitdagings, het die groep vroue van die DMI werklik ‘n baie goeie Konferensie aangebied.  Vir sommige van die gaste was die kultuur-verskille (en veral) die tradisionele kos ‘n groot uitdaging, maar die ervaring kan ‘n mens vir niks verruil nie.  Wat egter soos ‘n paal bo water uitstaan, is dat ons hier in ons pragtige, skóón land, soveel het om voor dankbaar te wees.  Nooit weer mag ons kla oor drinkwater wat na chemikalieë ruik nie, of oor die prys van die wye reeks verskillende snitte biefstukke wat in die slaghuis se vertoonvensters lê nie, óf oor die heerlikste vars groentes en vrugtes wat nie aan jou smaak voldoen nie.  Want daar is mense in Indië, wat werklik nie skoon water het om te drink nie en wat regtig nie gesonde kos het om te eet nie.  In Karien se eie woorde:  “Ek kyk op na die berge… en ek wil vertel van die Grootste Liefde. Van deurboorde hande.  Van daaglikse brood.”

 

Post a comment

six − five =