Groen

 

Groen

Posted by VLV in Jamestown Tak 02 Sep 2015

 

Sirkel:  NOK

Tak:  Jamestown

Portefeulje:  Opv.&Kultuur, Leefstyl, Kunste&Handvlyt, Landbou, Gesondheid

Beriggewer:  Antoinette van Pletzen

Datum:  2 September 2015

 

 

DSCN1409 (Custom)

Herwinningsartikels

 

 

DSCN1433 (Custom)

Die groep vroue met hul kaasborde. Van links sit Antoinette van Pletzen, Cecile Nel, Hilda v/d Walt, Philna van Pletzen, Lucia Lieberum, Marlene Lategan, Gerrie Upton en Drini van Pletzen. Voor sit Mariana van Pletzen en Christell Venter.

 

Die dag se program is aangebied deur  die groen groep – Philna van Pletzen & Lucia Lieberum.  Lucia het ronde houtborde, verf & plakkers verskaf waarmee die dames kaasborde gemaak het. Philna het ‘n “groen” geskenk aan die taksekretaris oorhandig vir Sekretaressedag. Daarna het sy “Moenies vir Dames” voorgelees uit ‘n Landbouweekblad van 21 Maart  1944.

 

  • Moenie op straat rook nie.
  • Gedurig sonder end praat nie.
  • Voor ‘n man uitloop in ‘n kafee, bioskoop of teater nie.
  • Vergeet om altyd aan ‘n man se regterkant te loop nie.
  • U man se korrespondensie oopmaak nie.
  • U man se papiere op sy skryftafel rondskuif nie.
  • Ontevrede wees en daaroor lol as u man meen ‘n artikel is te duur nie.
  • U man en sy foute met u familie en vriende bespreek nie..
  • U man laat wag vir ete as hy by die huis kom nie.
  • Oor u kinders spog nie.
  • U kinders vir ander laat resiteer of liedjies sing nie.
  • Met u bediende voor u man of ander mense raas nie.
  • Dink dis verkeerd om met handskoene aan te groet nie.
  • Wanneer u op ‘n nuwe plek aankom, die mense gaan besoek voordat hulle u besoek het nie.

 

 

Mariana van Pletzen het vertel oor die prosesse wat sy gebruik om navorsing i.v.m. haar families te doen. Sy het ook elke lid se geboortename en waar dit vandaan kom gevra, asook die nooiensvanne. Sy het ook die verskillende simbole verduidelik wat op internet gebruik word, bv. vir doodgebore, geskei, ens. Lucia het pietersielie-plantjies uitgedeel. Almal moes ‘n herwinningsartikel saambring wat uit ‘n plastiese 2 liter-bottel gemaak is en die items is uitgestal.

 

DSCN1423 (Custom)

Philna van Pletzen verduidelik haar skoonmaakwenke, terwyl Marlene Lategan, Lucia Lieberum, Mariana van Pletzen en Cecile Nel aandagtig luister.

 

 

Philna het die gebruik van verskillende skoonmaakmiddels verduidelik en wenke gegee – soos die vlg.:

 

  • Wenk vir wasmasjienseep is: Meng die vlg: 2 kg kouewaterseep, 500 g koeksoda en 1 kg growwe sout. Dis nie ook nodig vir versagmiddel nie.
  • Was vensters, storte, teëls en spieëls  met die vlg mengsel: 1 eetlepel spiritus, 1 eetlepel wit asyn, 1 teelepel skottelgoedseep, en 500 ml koue water.
  • Gooi skottelgoedwasmiddel in ‘n leë handewasseephouer met pompaksie. Dit sal baie seep bespaar!
  • Moenie toilet-“ducks” weggooi nie – hervul met goedkoop skottelgoedseep.

 

 

Inligting oor plaasveiligheid is uitgedeel wat deur die plaaslike Landbouvereniging en Agri-OK aangestuur is. Vroue moet inisiatief neem deur bv. aan te dring op veiligheidshekke in die huis, ens. Bespreek ook jul eie situasie met jou eggenoot en beplan aanpassings, asook  aksies.

 

 

DSCN1429 (Custom)

Van die vormtoebroodjies in wording!

 

 

Philna het ook vir elkeen ‘n koekie boerseep gemaak. Tydens ete kon almal interessante gevormde toebroodjies leer maak en GROEN koeldrank drink. Ná ete kon almal in haar tuin rondstap en na hartelus plantjies uithaal!

 

 

 

Post a comment

two × 2 =