Grensverskuiwende gesondheid

 

Grensverskuiwende gesondheid

Posted by VLV in Hantam Tak, News 13 Jun 2014

Sirkel: Namakwaland
Tak: Hantam
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Janine Brynard
Datum: 13 Junie 2014

Die meeste van ons probeer régtig gesond leef.  Dit bly egter ‘n uitdaging om skoon, suiwer water te drink en vars, gesonde produkte te gebruik, wat nie in ‘n koelkamer rypgemaak is nie.  Veral op die platteland, ver van gesondheidswinkels en vars produkte-markte, gee ‘n mens gou moed op en word die weg van die minste weerstand gevolg:  knip die boksie oop, druk die aandete in die mikrogolfoond en siedaar!

Dit help natuurlik nie dat die verbruiker aangemoedig word om kitsoplossings te kies nie.

Dit het tyd geword om anders te dink oor jou liggaam en jou gesondheid.  Leefstylkwale en -toestande is aan die orde van die dag – en dis nie net vetsug nie!  Vir Aneen Nel, saamroeper van Gesondheid by Hantam VLV, is dit ‘n passie om gesonder te leef.  Daarom het sy vir Johan Jacobs genooi, om as spreker op te tree tydens haar vergadering.  En dit was duidelik, dat dit vir vele ander Calvinia-inwoners, ook belangrik geword het om gesonder leefstylkeuses te maak.

Johan is 14 jaar gelede met meervuldige sklerose gediagnoseer.  Vir die meeste lyers van hierdie gevreesde siekte, is dit ‘n doodsvonnis, omdat dit die liggaam só aftakel, dat dit onmoontlik is om ‘n kwaliteit lewe te leef.  Johan wou egter nie aanvaar, dat hy nooit weer normaal sou kon loop, praat en leef nie.  Hy het verskeie, radikale behandelings probeer, wat hom eerder baie sieker, as gesonder gemaak het.  Toe Johan begin dieper delf na die oorsprong van sy toestand, het hy besef dat sy liggaam só vol toksiene was, wat oor die loop van jare in sy liggaam opgebou het.  Behalwe vir langdurige gebruik van antibiotika toe hy baie jonk was, wat sy weerstand en boustene verswak het, het hy ook ‘n hele paar kwiksilwer-stopsels en wortelkanaal-behandelings in sy mond gehad.  Die vrystelling van hierdie stopsels in sy mond, oor die verloop van meer as 10 jaar, het sy breinselle aangeval, omdat kwik veral op vetweefsel teer.  Die DNA van die selle is verander, sodat sy eie immuunstelsel hierdie “vreemde” selle begin aanval het.  Sy eie liggaam het hom dus tot die dood toe siek gemaak.

Nadat hierdie stopsels en wortelkanale verwyder is het Johan intensiewe behandeling gehad in Amerika en Australië, om van die toksiene in sy liggaam ontslae te raak.  Hierna het hy en sy vrou, Alicia én hul drie, pragtige kinders, oorgeskakel na ‘n natuurlike leefstyl.  Hul bediening, Go Natural, in Somerset-Wes, is gemik daarop om ander mense ook te help om hul lewenstyle te verander.  Dit mag dalk moeilik, onbereikbaar en duur klink, maar hierdie is alles mites wat tussen ons en ‘n gesonder lewe staan.  Met hul 10-stap-plan, kan enigeen vandag optimaal, gesond begin lewe:
1) Gebruik slegs organiese, vars, rou grane wat met ‘n steenmeul en graanroller gerol is om alle heilsame nutriënte uit ons stapelvoedsels te trek.
2) Hou op om verwerkte, nutriënt-arme, toksiese kits-kosse te eet.
3) Drink slegs gedistilleerde water, om toksiene wat in grond- en munisipale water voorkom te vermy.
4) Versap soveel as moontlik groente om al die nutriënte daaruit te bekom.
5) Laat sade en bone uitloop om dit selfs nog meer voedsaam te maak.
6) Droog vars, organiese vrugte tuis, sonder chemiese preserveermiddels.
7) Lê groente in soos ons voorsate dit gedoen het, sodat dit regdeur die jaar beskikbaar is.
8) Eet veral goeie dierproteïene – dis die boublokke vir ons liggame.
9) Gebruik goeie olies en vette.
10) Eet superkosse wat veral ryk is aan liggaamsboublokke en ondersteunende nutriënte.

Vir elkeen wat Johan se inspirerende praatjie bygewoon het, was dit beslis ‘n grensverskuiwende ervaring.  Hantam VLV het die uitdaging aangegryp om van vandag af gesonder te begin leef.  Hiervoor beplan ons om ‘n vars produkte-mark te hou, waar organiese groente en vrugte gereeld beskikbaar kan wees.  Verder onderhandel ons om o.a. ‘n steenmeul beskikbaar te stel op Calvinia.  Maar die belangrikste is dat ons mekaar gaan inspireer en ondersteun op hierdie gesondheis-geloofspad.

Johan Jacobs, van Go Natural in Somerset Wes, het as spreker opgetree tydens Hantam VLV se Gesondheidsvergadering.  Johan was 'n MS-lyer, wat, o.a. met 'n gesonder leefwyse hierdie gevreesde siekte oorwin het.  Op die foto, is Hantam VLV se voorsitter, Janine Brynard (links), by Johan Jacobs en Aneen Nel (regs), saamroeper van die tak se Gesondheidsportefeulje.

Johan Jacobs, van Go Natural in Somerset Wes, het as spreker opgetree tydens Hantam VLV se Gesondheidsvergadering. Johan was ‘n MS-lyer, wat, o.a. met ‘n gesonder leefwyse hierdie gevreesde siekte oorwin het. Op die foto, is Hantam VLV se voorsitter, Janine Brynard (links), by Johan Jacobs en Aneen Nel (regs), saamroeper van die tak se Gesondheidsportefeulje.

Post a comment

three + seven =