Gouritsmond, Albertinia en VLV Voëlvlei brei in die publiek

 

Gouritsmond, Albertinia en VLV Voëlvlei brei in die publiek

Posted by VLV in News, Voëlvlei Tak 23 May 2014

Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Leefstyl en Gesondheid

Beriggewer: Dania V/D Walt

Datum: 22 Mei 2014

Op Donderdag, 22Mei 2014, het ‘n groep van 60 dames in die Gemeenskapsaal te Gouritsmond byeen gekom om mussies  en handskoentjies vir KANSA George te brei.

Die dames wat die dag gereël het, Tineke Reinink, Leefstylsameroeper en Dania v/d Walt, Gesondheidsameroeper, wou oorspronklik ‘n groter geleentheid daarvan maak nadat hulle op die Internet gelees het van die wêreldwye “knit in public day” wat jaarliks gedurende Junie/Julie gehou word. Hulle het egter besluit om dit klein te hou.  Verlede jaar het ons 27 dames gehad wat 250 mussies gebrei het.  Die groep dames het dadelik gesê volgende jaar weer op Gourits!!

Die wêreldwye geleentheid is in 2005  deur Danielle Landes begin as ‘n manier om persone wat brei saam te kry om mekaar se geselskap te geniet en sodoende nuwe medebreiers te leer ken en terselfdertyd iets vir liefdadigheid te doen. In Amerika en baie van die ander lande is dit natuurlik nou lente of somer en vind die geleenthede dan buite in die opelug plaas, vandaar die benaming “knit in public day”.

Die dag gaan regtig daaroor om die publiek te wys dat iets soos brei of hekel wel ‘n gemeenskapsaktiwiteit kan wees.

Hier op Gouritsmond het ons alreeds twee breigroepe en die lede van dié groepe sowel as taklede van VLV Voëlvlei en  besoekers vanaf Albertinia  het die dag terdeë geniet. Met heerlike sop en worsbroodjies  het die breinaalde vrolik geklik saam met ‘n gelag en gesels was daar sommer gou-gou  nog mussies vir ons kankerpasiënte bygevoeg by die 210 hoedjies en heelwat pare handskoentjies  wat ons alreeds hierdie jaar ontvang het van dames wat  voor die breidag gewoeker het. 

Ons sal graag die ander VLVK-takke wil aanmoedig om ook sulke dae te reël om vir liefdadigheid te brei.

Ons is so dankbaar vir die pragtige reaksie wat ons hierdie jaar gehad het en die hoedjies sal op  die jaarlikse Koppie vir Kankerdag te Gouritsmond aan die verteenwoordigers van KANSA oorhandig word.

Post a comment

one × two =