Gesondheidsuitdagings positief benader

 

Gesondheidsuitdagings positief benader

Posted by VLV in Murraysburg Tak, News 14 Aug 2014

Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Mette Kromhout

Datum: 13 Augustus 2014

 

Twee Murraysburgers, wat onlangs groot gesondheidsuitdagings in die gesig gestaar het, het tydens die VLV se Gesondheidsvergadering op 13 Augustus uiters positief oor hulle ervarings en herstel rapporteer.

 

DSC02784

 

Paul Avenant, Dirkie van der Mescht en Renée Swanepoel (programaanbieder).

 

Dirkie van der Mescht het op 14 Maart vanjaar slegs 29 kg geweeg.  Hy het met openheid en gemak sy traumatiese mediese ervarings met die lede gedeel en hulle bedank vir alle ondersteuning, gebede en ook die kniekombersie, wat hy van die VLV ontvang het.

 

By Groote Schuur is kanker by hom gediagnoseer en moes hy 17 eenhede bloed ontvang.  Beenmurg is verskeie kere by hom getrek en hy het intensiewe chemoterapie ontvang.  Daar is selfs “kleppe” in sy borskas ingesit om al die behandelingsprosesse te vergemaklik.  Die medikasie en behandeling het hom by tye baie sleg laat voel, maar danksy sy positiewe gesindheid en baie gebede is hy nou in remissie en weeg 59 kg.

 

Dirkie se hantering van sy ernstige siekte dien vir die dames as inspirasie.

 

Paul Avenant het beklemtoon dat genoegsame voorbereiding en inligting die hele proses van ´n hartklepvervanging baie minder stresvol vir die pasiënt en sy naasbestaandes maak.  Die pasiënt moet poog om so fiks en gesond moontlik te wees en selfs verseker dat sy tande in ´n goeie toestand is.

 

Gedurende die operasie word die pasiënt se borskas oopgemaak en sy hart “verwyder” terwyl ´n hart-long-masjien die pasiënt aan die lewe hou.  Die operasie duur tussen vier tot ses ure.  Na die operasie ontvang die pasiënt ´n wit kussinkie, genaamd Blondie, wat sy bors beskerm wanneer hy beweeg of hoes.

 

Dit is belangrik om so aktief moontlik te wees vandat die pasiënt vanaf die intensiewe eenheid na ´n gewone saal verskuif word.   Pynstillers moet gebruik word om die aanvanklike pyn te beheer en die hospitaal verskaf ´n handleiding vir die herstelproses van ongeveer ses weke.

 

Paul bedank sy gesin asook die gemeenskap van Murraysburg vir hulle ondersteuning en gebede en sy dank gaan veral ook aan die Hemelse Vader vir nog ´n kans om ´n vol en aktiewe lewe te mag lei.

 

Dat hulle so kon deelhê aan Paul en Dirkie se ervaringe het die lede diep geraak en elkeen het weer eens besef hoe belangrik voorbereiding, kennis en die ondersteuning van gesin en gemeenskap is.

 

DSC02786

Wie kan die uitnodiging van so ´n teetafel weerstaan?

Post a comment

1 × one =