Gesondheid uit die grond uit!

 

Gesondheid uit die grond uit!

Posted by VLV in Douglas Tak, News 11 Jun 2014

Sirkel: Kimberley en Distrik
Tak: Douglas
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Hanneke Botha
Datum:10 Junie 2014

Op ‘n lekker koue Dinsdagmiddag kuier Nico du Toit by die VLV Douglas. Hy werk by GWK se aartappelkweekhuis en koelkamer. Hy vertel ons meer van die verskillende variëteite en kultivars, asook die eienskappe wat dit moet hê. Nico vertel meer oor die genebank, asook hoe die plantjies gekweek word en groei. Hy wys foto’s van hoe dit binne-in die kweekhuis lyk. Gedurende die hele groeiproses voer die ASD (aartappel-sertifiseringsdiens)’n hele aantal inspeksies uit.

Nico du Toit kweek aartappels by GWK.

Nico du Toit kweek aartappels by GWK.

 

Magdelie Theron is volgende aan die beurt. Sy is ‘n senior geregistreerde dieetkundige wat by die neurochirurgiese eenheid en diabetiese kliniek by Kimberley Hospitaal werk. Sy gee ‘n insiggewende praatjie oor die voedingswaarde van aartappels. Aartappels is voedsaam, veselryk en hoog in proteïene. Sy verduidelik die rol van stysel en glukose en vergelyk ook aartappels met ander stysels. Sy toets ook verskeie mites oor aartappels. Magdelie vestig ons aandag op balans en dat ons ‘n verskeidenheid van kosse moet geniet.

Magdelie Theron vertel van die gesondheidsvoordele van aartappels.

Magdelie Theron vertel van die gesondheidsvoordele van aartappels.

 

Demonstrasie: Jacoline Erasmus wys vir ons hoe maklik dit is om self papier te maak. Gebruik papier, maar nie glanspapier nie. Skeur 5 velle papier op in klein stukkies en gooi dit in 3 liter warm water en voeg voedselkleursel by. Gooi 1 teelepel stysel by (as jy op die papier wil skryf). Verpulp die mengsel in ‘n voedselverwerker totdat dit soos slap pap lyk. Gooi dit in ‘n raam met gaas en plaas vilt bo-op. Gebruik ‘n sponsie en druk die water uit. Dop dit om en laat dit droog word vir 2/3 dae. Siedaar! Handgemaakte papier!

Jacoline maak papier.

Jacoline maak papier.

 

Na al hierdie interessanthede geniet die dames en die gaste heerlike warm koppies aartappelsop en pampoensop wat saam met broodjies bedien is en sluit af met melktert.

Alta (takvoorsitter), Magdelie en Nico.

Alta (takvoorsitter), Magdelie en Nico.

Post a comment

four × 5 =