Gerehabiliteerd en openhartig

 

Gerehabiliteerd en openhartig

Posted by VLV in Dordrecht Tak, News 02 Oct 2013

Sirkel: Noord Oos Kaap

Tak: Dordrecht

Portefeulje:Gesondheid

Beriggewer: Marieka Bekker

Datum: 2 Oktober 2013

September is Dordrecht tak se Gesondheidsmaand en die dames doen moeite om verskeie instansies te ondersteun, asook om iets te leer. Op Loslitdag (6 September 2013) het vier van die lede hul oȅ toegeknyp en bloed geskenk! Alhoewel nie een van ons van naalde hou nie, was dit glad nie te erg nie en kon ons lekker aan broodjies en koekies smul na die ‘lyding’. Elke skenking wat gemaak is, kan tot 3 lewens red. In totaal was daar 26 mense wat die dag ondersteun het.

Dames wat bloed geskenk het. Agter is Lenie Fourie. Op die stoel is Bertha Rossouw. Middel is Marieka Bekker met haar dogtertjie Naomi, die VLV se jongste lid.

 

Mnr. Danie Fourie van die plaas Wolwekloof in die Rossouw-distrik het ook die dames kom toespreek oor alkoholisme. Danie is ‘n gerehabiliteerde alkoholis wat nou al vir meer as 20 jaar lank opgehou drink het. Hy het vir jare lank ‘n disfunksionelel bestaan gehandhaaf. Dit is soos iemand wat rook, het hy gesê. Jou liggaam begeer die hele tyd die effek wat drank of rook op jou liggaam het. Danie sȇ hy het ook ‘n persoonlikheidsverandering ervaar. Hy sou meer gemaklik en spontaan wees, as wanneer hy nie gedrink het nie. Hy het vriende gemaak met mense met wie hy na 5 in die aand kon saamkuier tot laatnag en het hy geglo daar is niks verkeerd met hom of die lewenstyl wat hy gehandhaaf het nie.

Tannie Anna Van Niekerk saam met Danie Fourie van die plaas Wolwekloof.

Danie se draaipunt het gekom toe hy eendag besef het dat hy nie gehou het van die persoon wie hy geword het nie. Hy het besluit om na ‘n droogskool in Bloemfontein te gaan vir hulp. Die mense daar was baie aangenaam en ondersteunend en het hom laat voel hulle gee werklik vir hom om. Maar ongelukkig het hy nie na sy terugkeer huis toe daarin geslaag om nie weer te drink nie.

Tuis het die mense hom ‘Dronk Danie’ genoem en daar was geen vriende wat hom ondersteun het of hom probeer help het om op te hou drink nie. Die mense het agter sy rug geskinder en hom op straat vermy.  Dit was ‘n baie moeilike tyd vir hom, omdat hy gevoel het dat hy geen ondersteuning het nie en hy het net aangehou drink.

Drie keer het Danie na die AA in Bloemfontein gegaan en al drie kere was hy onsuksesvol in sy poging om op te hou drink. Toe hoor hy van dr. Lombaard wat destyds in Aliwal-Noord inplantings gedoen het om mense te help wat sukkel met alkoholisme. Vir 3jaar lank het hy elke jaar gegaan vir die, baie duur, inplanting en na sy derde inplanting het hy dit nie meer nodig gehad om terug te gaan nie.

Nou koester Danie Fourie sy vermoë om die lewe te geniet sonder die hulp van alkohol. 15jaar gelede het hy sy vrou, Lenie, ontmoet en sy is baie ondersteunend.

Danie sȇ dat dit aanvanklik baie moeilik was om nie te drink nie. Hy moes sy vriendekring verander en ook sy gedagtes.  Sy vrou het baie berading ontvang en het moeite gedoen om haar man se aandag af te lei deur met hom te gaan stap of saam ‘n stokperdjie te beoefen. Sy het ook inspirerende woorde op die yskas geplak, sodat hy dit elke dag kon lees.

Deesdae word alkoholafhanklikheid aanvaar as ‘n siekte wat enigiemand kan tref. Alkoholisme is ‘n siekte wat stadig begin deur net eers eksperimenteel te drink. Die smag na alkohol word algaande meer wanneer ‘n persoon sosiaal verkeer, en word dan ‘n smagting wat nie afgeskud kan word nie. ‘n Persoon word kompulsief en obsessief oor alkohol wanneer hy of sy misluk om self op te hou drink en nie meer die gebruik van alkohol kan beheer nie.

Danie Fourie sȇ hy het nooit begin drink weens ‘n morele ontoereikendheid of swak wilskrag nie, hy het net begin smag na alkohol en hy het gedink die fout lȇ by ander en dat dit vir hom moeilik was om te erken dat hy beheer verloor het oor alles in sy lewe. Hy sȇ ook dat niemand kies om ‘n verslaafde te wees nie en dat die meeste mense deur stadiums van ontkenning tot woede, tot onderhandeling en tot uiteindelike aanvaarding gaan.

Feite oor alkoholisme:

– 10 tot 15% van alle bevolkings het alkoholiste.

– Depressie versoorsaak dat 30 tot 40% van mense na alkohol soek om beter te voel oor hulself.

– Depressie is meer algemeen by alkoholafhanklike vroue as onder mans.

– Wanneer iemand onder die invloed van alkohol is, is die persoon meer geneig tot selfmoord.

– Angstoestande word deur 25 tot 50% van alkoholiste ervaar.

– 70% van onnatuurlike sterftes vind plaas onder die invloed van alkohol.

 

VLV-Dordrecht wil graag baie dankie sȇ aan Danie Fourie wat ons kom toespreek het en ons is voorwaar trots om hom by ons VLV te kon hȇ. Hy het die dames  inspireer en almal voel dat hy baie braaf  was om ons so openhartig te kom toespreek.

Post a comment

two × 4 =