Fisionomie prikkel VLV-lede

 

Fisionomie prikkel VLV-lede

Posted by VLV in Murraysburg Tak, News 24 Jul 2014

Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Mette Kromhout

Datum: 23 Julie 2014

 

Hannelize van Heerden het tydens haar opvoedkundeprogram in Julie na aanleiding van Marthie Mare se boek oor fisionomie die dames ingelig dat die ontleding van ´n persoon se gesig waardevolle inligting oor sy aard kan verklap.

 

Van Heerden het die lede twee-twee mekaar se gesigte laat ontleed.  Eerstens moes hulle die dominante derde van die gesig bepaal.  Diegene by wie die voorkop dominant is, is glo denkers, terwyl ´n oorheersende kengedeelte gewoonlik aan doeners behoort en diegene by wie die middelste deel van die gesig dominant is, is ambisieus en gesteld  daarop dat alles, van werksomstandighede tot verhoudings, reg is.

 

Die vorm van die voorkop verklap blykbaar hoe ´n mens dink, terwyl die vorm van die wenkbroue aandui watter tipe inligting verkies word terwyl hulle posisie die persoon se reaksietye bepaal.  Die grootte van die ooglede weerspieël ´n behoefte aan intimiteit en persoonlike ruimte.

 

Volgens diegene wat ernstig is omtrent fisionomie verraai die breedte, vorm en punt van die neus hoe die eienaar probleemoplossings vind en of hy/sy goed by ´n span kan inskakel.  Die posisie van die ore asook hulle grootte dui op hoeveel en hoe vinnig inligting tydens ´n gesprek geabsorbeer kan word asook die tempo van besluitneming.

 

Die mond en lippe verraai natuurlik veel van kommunikasie- en oortuigingsvermoë terwyl die vorm van die ken verklap hoe besluite geneem word.  Sou ´n eggenoot met ´n hoekige ken gekies word, moet aanvaar word dat hy graag in beheer wil wees en besluite tot sy voordeel sal neem.

 

Ten spyte van aanvanklike skeptisisme het die opwinding merkbaar toegeneem namate die aannames in die studie wel toepaslik was.

 

DSC02366

Die lede geniet die ontleding van mekaar se gesigte.

 

Indien die studie wel vertrou kan word, sal dit die keuse van geskikte werksoekers of selfs huweliksmaats (!) baie kan vergemaklik.

 

Nadat Erika Grebe interessant oor Spaanse tapas en Franse canapés gesels het, was die lede aangenaam verras om te verneem dat die breiblokke,  broodknippies wat versamel word,  handskoene en serpe wat gebrei word,  pakkies sop vir die traumakamer,  Alna Theron se voetversorging by Huis Spitskop,  uitdeel van boeke en tydskrifte en ander klein pogings wel op verskeie terreine ´n beskeie verskil maak.

 

Erika Grebe demonstreer tapas.

 

So bied die VLV op Murraysburg nie net geleentheid tot sosiale samekoms nie, maar is elke byeenkoms leersaam en word daar gepoog om die wyer gemeenskap positief te beïnvloed.

 

DSC02371

Mette Kromhout, Theresa Troskie en Christa van Heerden wat saam met Grada Retrief ywerig blokke gebrei en vasgehekel het .

Post a comment

four × 2 =