Errieda du Toit kom kuier by Brackenfell

 

Errieda du Toit kom kuier by Brackenfell

Posted by VLV in Brackenfell Tak, News 04 May 2018

Sirkel: Tygerberg

Tak: Brackenfell

Beriggewer: Lettie Van Wyk

Portefeulje: Leefstyl

Datum: 3 Mei 2018

 

Die Leefstyl-sameroeper, Bettie Döckel, het Errieda du Toit aan die vergadering voorgestel as ‘n merkwaardige vrou, en ons kon gou agterkom dat haar woordkeuse in die kol was, want hierdie kort vroutjie het ons op die punte van ons stoele gehad van begin tot einde.

 

Skrywer van 7 kookboeke, onder andere TUISTAFEL, wat sy aan die vergadering te koop aangebied het teen ‘n spesiale prys en wat deur die dames opgeraap is.   Sy was vir baie lank op RSG saam met Francois Ferreira, waar hulle HUISKOK  / GLANSKOK aangebied het.   Sy is ook inhoudsvervaardiger/skrywer van KOKKEDOOR, KOEKEDOOR EN KOKKEDOORTJIE.   Al hierdie besonderhede kan gesien word op haar FACEBOOK-blad, tog is hierdie vroutjie se voete stewig op die aarde en haar mooi persoonlikheid het almal se harte gesteel.

 

Wat verblydend is, was haar opmerking dat die VLV-waardes saam met moedersmelk gekom het.   Haar moeder was verbonde aan die Kuilsrivier-tak.

 

Kos is dikwels die stories verbonde aan kosmaak.   Errieda vertel van die Turkse vroutjie wat gruwelik deur haar man mishandel is.   Toe ontmoet sy ‘n Siriese man wat haar aan sy ma, wie se bruin lensiesop ‘n legende was, wou voorstel    Errieda sê sy dink gereeld aan die vroutjie wat eers so ongelukkig was, en vir wie geluk later gekom het, terwyl sy bruin lensiesop maak.

 

Sy lê ‘n gedagte in ons midde dat sy, te midde van vloed of vuur, eerste sal gryp na haar oupa se handgeskrewe resepteboek, want daardie ou resepte met hul besondere taalgebruik is baie kosbaar.   Die bekoring van ‘n ou resepteboek is die verlore juwele wat klein oomblikke weergee wat ‘n kok se lewe was.

 

Errieda het 2 weke geneem om die geskiedenis van appeltert na te vors.    Melkkos, gemaak van eenvoudige bestanddele, is die klein drama van aandete wat soveel plesier gee.

 

Errieda wys ‘n ou, eenvoudig gebinde resepteboekie, en vertel hoeveel waarde dit vir haar het, want tussen die hedendaagse keurig-gebinde resepteboeke met die mooi foto’s en die karig gebinde boekies is daar groot verskille, maar het ook baie in gemeen.

 

Sy is tans besig om ‘n resepteboek saam te stel wat ‘n klein monument is van die ou resepteboekies en is besig om te soek na daardie juweeltjies uit ‘n vergange era – die boekie wat deur ‘n kerk of ‘n vereniging saamgestel is om fondse in te samel, met goeie en swak resepte in (want jy wil nie iemand kwaad maak nie!)  Sy vra vir die dames om haar te kontak indien hulle sulke boekies het, sy sal dit by hulle kom afskryf.   Die name van resepte vertel ook stories, bv. vir Chiffonpoeding:  GONE WITH THE WIND.   Resepte het dus ‘n digterlikheid van hul eie.   Jy kan selfs die tydperk waarin die resepteboekie uitgegee is, bepaal deur die woordkeuses  bv. pyrex-bak, Tupperware.    Kaas-en-wyn partytjies was aan die orde van die dag in die sewentiger-jare.

 

Errieda moedig die vergadering aan om persoonlike resepte in jou eie handskrif vir jou nageslag te bewaar.

 

Bettie en haar gasvroue het ons trakteer op heerlike sop en brode na die vergadering en ons het heerlik gekuier, geinspireer deur ons gasspreker!

 

Mooi rangskikking by voorsitterstafel.

 

Dames koop Errieda se boek.

 

Elba van der Merwe, Voorsitter, Errieda du Toit en Bettie Döckel

 

Errieda du Toit en Bettie Döckel

 

Errieda in aksie

 

Ian du Toit, Errieda se eggenoot, is verantwoordelik vir al die mooi foto’s in haar boeke

 

 

  • Elizabeth Dockel May 11, 2018 at 9:10 am / Reply

    Puik artikel weereens Lettue!!!

Post a comment

eighteen + 16 =