Dordrecht hou ‘n verjaarsdagpartytjie

 

Dordrecht hou ‘n verjaarsdagpartytjie

Posted by VLV in Dordrecht Tak, News 08 Jul 2014

Sirkel: Noordoos-Kaap
Tak: Dordrecht
Beriggewer: Marieka Bekker
Datum: 8 Julie 2014

Die voorsitter van Dordrecht tak het op 8 Julie verjaar en van die lede en ‘n paar van haar vriendinne is op ‘n bitter koue oggend na die plaas Wolwekloof, in die Rossouw-distrik. Vroeg al is daar opgewonde om die kombuistafel geklets en gekla oor gebarste pype en koue storte, maar niks het die dames se vrolikheid gestrem nie.

image.axd-31

Lenie en haar dogter, met die hulp van haar man, Danie Fourie, het ‘n feestelike tafel voorberei wat behoorlik gekreun het onder al die koeke en terte. Nadat al die dames lekker gesmul het met suikerstrepe tot agter die ore, het almal aan hul snipperboekblaaie begin werk. Elke dame moes ‘n foto van haarself op die blaai plak en dan met oulike prentjies en plakkers versier. Dit was groot pret  wat met baie opgewondenheid gepaard gegaan het. Lenie het elke dame wat daar was se snipperboekblaai in haar snipperboek gebêre as ‘n aandenking vir haar verjaarsdag.

 

‘n Snipperboek is die wyse om familie en persoonlike geskiedenis in boekvorm te bewaar. Tipiese gedenkwaardighede sluit foto’s, gedrukte werk, kunswerke en kleinskaalse speelgoed in. Gedurende die 15de eeu in England het daar boeke ontstaan wat bedoel was om gedigte, resepte, briewe en aanhalings in aan te teken en te bewaar. Elke boek was uniek gemaak volgens die skepper se persoonlike belangstellings.
In die 18de en 19de eeue het dit gewild geword onder die meisies om hulle skooljaarboeke te verpersoonlik en dit was ook ‘n manier om hulle lees-en skryfkennis te deel. Van die eerste snipperboeke het gewoonlik koerantuitknipsels bevat.
Marielen Christensen het begin om kreatiewe blaaie te ontwerp vir haar familie foto albums en hulle in ringbinders met plastiekomhulsels te sit. In 1981 het sy en haar man A.J. ‘n snipperboekwinkel oopgemaak in Spanish Fork, Utah, in die Verenigde State van Amerika. Die winkel bestaan nog tot vandag toe.
Nadat geskenke oopgemaak is en gelukwense aan Lenie toegewens is, het die dames elk weer ‘n bordjie eetgoed genuttig en is die groep later huistoe tot groot gejuig van Danie, wat die enigste haan onder die henne was.

image.axd-32

Lede versier hulle snipperboekblaaie.

Lede versier hulle snipperboekblaaie.

Post a comment

14 + seven =