Die vrou se rol in landbou vandag

 

Die vrou se rol in landbou vandag

Posted by VLV in News 12 Sep 2014

Sirkel:  Namakwaland

Tak:  Hantam

Portefeulje:  Landbou & Tuinbou

Beriggewer:  Janine Brynard

Datum:  12 September 2014

 

 

Nog altyd was die boervrou goed genoeg om die huishouding te behartig en die kinders groot te maak.  Dit was dan maar die manne wat gemoeid was met die plaassake, wat insluit die veiligheid en arbeid.  Dit het egter tyd geword, dat die vroue begin deel word van die landbou, sodat die uitdagings wat elke dag bestaan, omskep kan word in geleenthede.

 

 

Tydens Hantam VLV se Landbou vergadering, het die voorsitter van Calvinia Landbou-unie, Hennie van Wyk, die dames aangespoor en uitgenooi om toe te tree tot die georganiseerde landbou, nie net as sekretaresse van hul onderskeie Landbouverenigings nie, maar om ook beskikbaar te wees vir portefeuljes op die verskillende terreine.

 

Op die onderwerp van veiligheid, is daar werklik deesdae rede tot groot kommer.  Daagliks word nóg plaasaanvalle aangemeld en in ons eie omgewing is die afgelope tyd heelwat gerugte en waarskuwings oor die senders gestuur.  Alhoewel daar baie tyd spandeer word om by die CLU-vergaderings te praat oor veiligheid, word dit ongelukkig hopeloos te min op grondvlak deurgevoer.  Onlangs het die Munisipaliteit ‘n veiligheidsplan in Calvinia geoefen – waar is die planne vir die landbou-sektor?  Ons vroue se rol sal wees om verantwoordelikheid te neem vir ons eie, maar ook ons gesinne se veiligheid.  Bemagtig jouself deur vaardigheidstoetse te ondergaan om jou handwapen korrek te gebruik in ‘n noodsituasie.  Wees paraat.  Wees veilig.

 

 

Ook arbeid geniet soms nog te min aandag.  Aksies kan verder geloods word vir opheffing en werkskepping.  Goeie arbeidsverhoudinge met alle werkers op die plase moet opgebou word.  Moenie sommer goedsmoeds ‘n nuwe of vreemde werker aanstel nie.  Vind eers inligting uit oor sy agtergrond en vorige werkservaring.  Werk saam met die Departement van Arbeid en verwelkom die nuwe wetgewing wat ingestel gaan word.  Bly op hoogte van die verhogings in die lone vir al die verskillende arbeiders en posvlakke.  Baie strenger optrede in die vorm van boetes en tronkstraf sal eersdaags ingestel word, rakende arbeidsake wat nie wettig is en op datum gehou word nie.

 

 

Grondhervorming is ‘n term waaroor die meeste vroue nog redelik oningelig is.  Dit kan lei daartoe dat gesprekke hieroor en uitlatings soos o.a. grondplafonne, paniek en histerie veroorsaak.  Bly ingelig oor die nuutste inligting en wetgewing rakende hierdie sake.

 

 

Alles in ag genome, is die rol van die vrou in vandag se landbou merkwaardig.  Sy moet haarself vra:  Wat kan ék doen, in plaas daarvan dat sy sit en wag vir iemand om iets vir haar te doen.  Al hoe meer vroue-leiers sal na vore moet tree, want die kundigheid en  organisasie-vermoë is broodnodig.  Hier is dit werklik ‘n geval van:  “A man is as strong as his support at home.” 

Post a comment

2 + eleven =